Insameling vir baba Bella krap ou wonde oop
Hier is die ware feite oor wat regtig met Baba Bella gebeur het
Soos gepubliseer in Vaalweekblad van 3 November 2023
Duisende Facebook-lesers is die afgelope week aangegryp deur ‘n pa se vertelling van sy babadogtertjie wat na bewering verlede Maandag in die Sebokeng-hospitaal doodgebore is. “Ons is so, so gebreek. Al wat ek vandag vra is vir mense om ons asseblief te help. Ons het niks van ons prinses nie. Niemand maak voorsiening vir so iets nie.”
So het mnr. Brian Delport van Vanderbijlpark sedert Sondag om bystand met hul dogtertjie se begrafnis gepleit.
In sy boodskap het hy in die fynste besonderhede vertel hoe sy vrou verlede week begin bloei het en hy haar hospitaal toe geneem het, waar vasgestel is dat hul ongebore baba dood is.
“Daar was geen hartkloppie nie. Ons prinses was weg.”
Hy vertel dan verder hoe sy vrou op die hospitaalvloer moes sit en twee dae moes wag vir ‘n beskikbare bed. Sy kon eers die Sondagnag om 01:00 opgeneem word. Volgens hom is hul dogtertjie die Maandagoggend om 08:05 doodgebore. Hy vertel dan met rou smart hoe hulle afskeid van klein Bella geneem het. Vaalweekblad het gevra om sy vrou te ontmoet en ‘n foto vir die koerant te neem, maar Brian het gesê sy gaan deur ‘n baie moeilike tyd en wil nie nou foto’s laat neem nie.
Terwyl medelye en skenkings vir die begrafnis begin instroom het, het Vaalweekblad sowel as die noodorganisasie wat geld daarvoor help insamel het, boodskappe begin ontvang dat daar ‘n slang in die gras was. Brian kon nie weer opgespoor word nie maar Vaalweekblad kon uiteindelik kontak maak met die baba se ma, wat bevestig het dat feitlik al die inligting oor baba Bella korrek was, met een deurslaggewende fout: Hul dogtertjie is reeds vier jaar gelede doodgebore en nie verlede week soos wat Brian beweer het nie.
“Ek was stomgeslaan toe ek Brian se plasings sien. Bella-Rose is al op 15 Augustus 2019 doodgebore, nie verlede week nie. Ek ken Brian nie as ‘n swendelaar nie en weet nie wat hom besiel het om te maak asof dit nou gebeur het nie,” sê mev. Cindy Berriman (28), die baba se ma. Die seer van destyds is nou weer pynlik oopgeruk.
Haar en Brian se paaie het kort na die dood van hul baba geskei. Brian is terug na sy eerste vrou en Cindy het ook weer nuwe liefde gevind. Sy het lankal nie meer kontak met Brian nie en is verlede jaar op Kersdag met haar nuwe man getroud.
Cindy sê sy en Brian was sowat drie jaar saam toe Bella-Rose in 2019 gebore is. Hulle het ‘n baba begeer maar sy het twee jaar gesukkel om swanger te raak – nie 10 jaar soos Brian aan Vaalweekblad vertel het nie. Brian het as blokman by ‘n kettingwinkel gewerk en Cindy in die admin-afdeling van ‘n plaaslike onderneming. Sy het hul inkomste aangevul deur in haar vrye tyd as ‘n au pair te werk om genoeg geld bymekaar te maak vir haar eersteling se koms. Omdat Cindy ‘n suikersiektelyer is, was daar komplikasies vanaf haar sewende maand van swangerskap. Sy was 8½ maande swanger toe sy in Augustus 2019 begin vermoed het dat iets verkeerd was met die baba.
“Ons is op 13 Augustus 2019 na die Johan Heyns-kliniek, waar die sonar nie ‘n hartkloppie kon vind nie. Ek is na die Sebokeng-hospitaal verwys, maar kon eers die oggend van 14 Augustus opgeneem word omdat daar nie vroeër ‘n bed beskikbaar was nie. Ek het in daardie stadium reeds geweet my babatjie is dood en het ‘n induksie gekry om die kraamproses te laat begin. Brian en my ouma en oupa het heeltyd in die kar buite die hospitaal gewag. Hulle is nie by my toegelaat nie. Ek was 11 ure in kraam voordat Bella-Rose om 02:00 die oggend van 15 Augustus gebore is. Dit was verskriklik pynlik… ‘n horrible ervaring.
“Na die geboorte het ek die personeel gevra of ek haar kon vashou. Brian en my ouma is ook toegelaat om ‘n uur lank van haar afskeid te neem. Omdat sy meer as 1.8 kg geweeg het, is ons toegelaat om ons eie begrafnisdiens te hou en Berthoms-begrafnisdienste het haar kom haal. Ek het self haar wit kissie en pienk blommetjies uitgekies. Die oggend van haar diens het ek haar self gewas en haar eerste babygrow vir haar aangetrek. Ek het haar in kombersies toegevou en haar self in die kissie gesit voordat ons na Doves se kapel by die begraafplaas gegaan het.”
Cindy se familie het bygedra om die volle koste van die verassingsdiens te dek. Hoewel sy en Brian kort daarna uitmekaar is, weet sy dat die tragedie hom baie ontstel het.
“Ek kan net nie verstaan waarom hy nou, na vier jaar, voorgee dat Bella-Rose eers verlede week dood is nie. Ek gaan hom konfronteer en uitvind waarom hy dit gedoen het. Ek weet nog nie of ek ‘n klag by die polisie gaan lê nie,” het sy gister (Donderdag 2 November) gesê.
OPDATERING: Cindy het intussen vir Brian oor die gebeure gekonfronteer. Hoewel sy hom nog nie ten volle vergewe het vir die hartseer waardeur hy haar nou weer gesit het nie, het sy meer bergip vir sy situasie nadat hy verduidelik het. Hy het verskoning gevra aan almal wat hy mislei het en het onderneem om die skenkings terug te betaal. Cindy sê sy glo daar is ‘n doel met alles en dat dié hartseer verhaal uiteindelik ‘n mooi en betekenisvolle einde gaan hê.
Die noodorganisasie wat Brian bygestaan het om geld vir Bella se “begrafnis” in te samel, het die voorval Woensdag by Capitec se bedrogafdeling aangemeld.
Mense wat donasies inbetaal het, se geld sal terugbetaal word as hulle voor 10 November van hulle laat hoor. Hulle word versoek om ‘n WhatsApp met hul bewys van betaling te stuur na Ria by 078 390 5572.



