Local newsNewsNews

Musiek haar kos, sang haar asem

Lizz Maree sing die Vaal aan die brand. Vaalweekblad het nader gaan kennis maak.

VANDERBIJLPARK. – Sy lewe vir haar musiek en het ‘n hart van goud. Talentvol, beskeie en plat op die aarde. Dis Lizz Maree.

Haar sang bekoor weekliks gehore waar sy ook al gaan. Dit maak nie vir haar saak of sy in ‘n kroeg of op die Liquid Lounge optree nie, sy gee haar alles.

“Ek het grootgeword met musiek. My pa was baie musikaal,” vertel sy. “Musiek en dans,” voeg sy dan by. Sy was omtrent sewe jaar oud toe skuif sy self agter die huisorrel in en speel op gehoor.

Wat sy van sang en instrumente weet het sy haarself geleer. Na skool het sy eers in die kosbedryf gewerk, totdat sy eendag gehoor het hul is op soek na iemand wat kan sing en dans by die casino.

“Ek was net die regte tyd op die regte plek,” lag sy. So het sy deel van ‘n groep geword wat gereeld opgetree het. Alhoewel sy dit geniet het, was haar droom om voltyds te kan sing.

Lizz en Cliff Maree, ‘n goeie kombinasie op en van die verhoog.

Dit het 14 jaar gelede waar geword toe sy uiteindelik haar mikrofoon permanent kon optel. Vandag durf sy weekliks verhoë aan met haar man, Cliff aan haar sy.

Die twee was saam op skool maar het op ‘n stadium kontak verloor. Sowat 18 jaar gelede het Cliff sy eerste kitaar gekoop en was hy op soek na iemand om hom te leer kitaar speel.

Hy het Lizz by Stonehaven raakgeloop. Sy het aangebied om vir hom kitaarlesse te gee en die res is geskiedenis. Vandag is hy die klankman en kitaarspeler aan haar sy.

Wanneer die twee saam optree is die band tussen hulle opmerklik. Hulle verstaan mekaar.

Tans hou die optredes hul goed besig, want hulle het ook korporatiewe funksies en mense bel haar gereeld om ook by begrafnisse te sing.

“Ek dink die moeilikste een was die dag wat ek gevra is om die Latynse weergawe van Ave Maria in ’n Rooms Katolieke Kerk te sing. Ek was so senuweeagtig en toe word die diens boonop aanlyn uitgesaai tot so ver as Skotland,” beduie sy grootoog.

Lizz geniet uitdagings en het al geleer om in verskeie tale te sing. Hulle tree gereeld op die Liquid Lounge op en die gehoor waardeer dat sy die moeilike klanke van isiXhosa kon baasraak.

Wanneer die egpaar nie optredes het nie, is hul besig met gemeenskapsdiens en het al verskeie optredes ten bate van instansies soos Vaalpets en Môredou tehuis vir bejaardes gehou.

Kom hul laatnag van ‘n optrede af, sal hul ook menigmaal by die buurtwag inval en eers patrollie ry. Bowenal geniet sy haar musiek.

“Ek hou daarvan dat ek die vryheid het om te kan sing wat ek wil. Ek pas die program aan by die gehoor en geniet dit om die mense beter te leer ken,” som sy haar gevoel op.

Volg Lizz gerus op TikTok en facebook.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button