Local newsNews

Dapper Danika voltooi 1ste agt maande van haar kankerreis

Haar ouers bedank almal wat hulle tot dusver met gebede, liefde en geduld ondersteun het.

 

Danika aan die begin van die jaar, toe sy haar skoolloopbaan by die Laerskool Risiville begin het.

MIDVAAL. – Dit was met ‘n hart vol dankbaarheid dat die ouers van die jong kankerlyertjie Danika van Tonder, verlede week laat weet het dat haar chemoterapiebehandeling voltooi is en sy nou bietjie kan rus voordat die pad vorentoe aangepak word.

Hier is die plasing wat haar pa, mnr. André van Tonder, op 27 Oktober 2023 na Vaalweekblad se Facebook-groep gedeel het:

Hi almal, Sjoe waar begin ek – 8 maande en 4 dae terug het ek nooit gedink ons sal hier staan nie.
Chemotherapy is voltooid, al Danika se beplande behandeling is voltooid, sy rus nou tot Donderdag dan gaan ons bloed toets en die pad verder bespreek.
Ek wil net dankie sê aan almal, vreemdelinge, vriende, familie, organisasies, skole: Dankie, dankie vir al die gebede, liefde, ondersteuning en geduld. Dit was tot dusver een helse pad van dae van smile tot dae van huil en kwaad wees. Van bang en eensaam wees.
Regtig, dankie.
Meeste van Alles, alle eer aan ons Hemelse Vader Jesus Christus. Mag ons Sy naam vir altyd loof en prys tot in ewigheid.
Ons pad is nog nie klaar nie, so asseblief, hou aan bid vir Danika, liewe Jesus se prinses.

* Danika moet Maandag weer by die hospitaal wees vir verdere toetse. Hou haar asseblief in julle gedagtes en gebede.

Weens Danika se siekte het Pa André se loodgietersbesigheid die afgelope maande skade gely. Hy gee nou dringend daaraan aandag om dit weer op te bou om ‘n behoorlike inkomste vir sy gesin te genereer. Hou hom gerus in gedagte vir ‘n kwotasie as jy enige loodgieterswerk in en om die Vaaldriehoek benodig. André is ook betrokke by die installering van sonkrag-geysers. Kontak hom by 079 525 0169.

Lees dié berig oor Danika wat in September 2023 in Vaalweekblad gepubliseer is:

200 dae na kankerdiagnose wag groot uitdagings steeds op Danika

Danika van Tonder saam met haar ouers, André en Christine, nadat haar behandeling vroeër vanjaar begin het.

MIDVAAL. – Dit is hierdie week 200 dae sedert klein Danika van Tonder in Februarie vanjaar met Stadium 4-kanker gediagnoseer is. Dit is tot dusver ‘n uitmergelende reis wat haar ouers, André en Christine van Tonder, geen kind of ouerpaar toewens nie.
Danika het in Januarie met groot opgewondenheid haar Graad 1-jaar by die Laerskool Risiville begin, voordat sy in Februarie siek geword het.
Sedert sy op 23 Februarie met medulloblastoma gediagnoseer is en op 8 Maart haar eerste operasie ondergaan het om die breingewas, so groot soos ‘n appel, te verwyder, het dié dapper dogtertjie en haar ouers reeds deur diep waters gegaan.
Haar eerste operasie was ‘n teaterprosedure van sewe ure. Vir haar ouers was dit ‘n senutergende beproewing want hulle het geweet daar was ‘n moontlikheid dat sy nie lewend uit die teater sou kom nie omdat die gewas wat verwyder moes word, so na aan haar breinstam was. Haar ouers glo tot vandag toe dat die duisende mense wat daardie dag vir Danika en die dokters gebid het, sukses verseker het. Die gewas is 100% verwyder. Danika was egter nie ongeskonde nie: Sy kon na die operasie nie meer praat of loop nie en was weer soos ‘n pasgebore baba wat niks vir haarself kon doen nie.

Kort daarna was sy terug in die teater sodat ‘n buisie, bekend as ‘n “shunt”, in haar brein ingeplaas kon word om serebellum-vloeistof te laat dreineer, want die vog het steeds kwaai drukking op haar brein veroorsaak.
Intussen het Danika vanaf 12 Junie tot 24 Julie reeds 30 keer bestraling oor haar brein en rugstring ontvang. “Dit was bitter erg. Sy het daarna bloedoortappings en bloedplaatjies ontvang omdat haar eie bloedtellings so kommerwekkend laag was,” sê André.

‘n Nuwe probleem is dat die “shunt” tans te veel vog van haar brein af laat dreineer, wat kneusing op albei haar breinlobbe veroorsaak. Dit kan tot permanente breinskade of selfs terminale skade lei en sy sal binnekort weer ‘n operasie moet ondergaan om die “shunt” te vervang. Dit kan tans nie gedoen word nie omdat die dokters nie haar chemoterapie wil onderbreek nie. Sy het reeds vier sessies chemo deurloop, wat elk oor ‘n tydperk van 3 dae en 6 ure toegedien word. Sodra sy sterker is, gaan haar vyfde sessie begin. In totaal moet sy ses sulke sessies ontvang.
Volgens André het Danika in die afgelope maande weer leer loop en praat, maar dit gaan nog moeilik. Sy sukkel steeds met haar balans en spraak. Haar regterkant is nog baie lam en haar linkeroog gee baie probleme. Sy het ook haar pragtige lang hare verloor, maar dit behoort vinnig terug te groei wanneer die intensiewe behandeling verby is.

“Hierdie is ‘n stryd wat ons vir geen mens toewens nie. Die laaste 14 weke het ek net twee weke gewerk, so ‘n inkomste was daar nie, maar ons is deur dit en darem nog hier. Ons weet nog nie wat voorlê nie. Ons weet net die pad is nog bitter lank. Danika kry baie swaar en is baie moeg die laaste tyd. Haar twee boeties van 10 en 4 jaar vat dinge ook swaar want ons hele wêreld is omgegooi,” sê André, wat ‘n loodgietersbesigheid het en die hoofbroodwinner van sy gesin is.
“Ons is soms baie moedeloos want dit voel asof daar net heeltyd iets is wat skeefloop,” sê hy.

Die gesin het nie ‘n private mediese fonds nie en is afhanklik van staatsbehandeling, wat by drie verskillende hospitale aan die Rand verskaf word. Buiten dat brandstof duur is, laat dit ook min tyd toe vir André om aandag aan sy sakeonderneming te gee.
* Enigiemand wat Danika en haar gesin geldelik wil bystaan, kan ‘n inbetaling doen aan A. van Tonder, Standard Bank Vereeniging, rekeningnommer: 282004726 (tjek).
“Die belangrikste wat ons vra, is dat almal asseblief moet aanhou bid vir ons dogtertjie … vir volle genesing en ‘n vol lewe,” sê André.

Danika as opgewonde Graad eentjie voordat sy met medulloblastoma, ‘n gewas in die brein, gediagnoseer is.
Hoewel sy nog met lamheid aan haar regterkant sukkel en haar linkerogie probleme gee, speel sy graag met haar poppies op dae wat sy effens beter voel.
Danika verlede week saam met haar pa, mnr. André van Tonder.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button