Legendariese seiler, sakeman en geliefde vriend sterf
Vlae hang hierdie week tot in Cairns, Australië, halfmas oor Gerrie
Vlae van talle seilklubs – selfs in die buiteland – hang hierdie week halfmas uit eerbetoon aan ‘n ware legende: Gerrie Boshoff.
Dié bekende seiljagvaarder en sakeman uit die Vaaldriehoek het vroeër die week (2 November) sy stryd teen kanker verloor.
Gerrie het die afgelope dekades verskeie Kaap na Rio-wedvaarte voltooi en in 2007 sy lewensdroom, om om die wêreld te seil, aangepak. Dié reis is in die opvolgende vier jaar herhaaldelik deur terugslae onderbreek, soos toe sy seiljag Wizard in 2011 naby die Mosambiekse kus gesink het. Hy en sy bemanning het plaaslik sowel as internasionaal die nuus gehaal toe hulle destyds deur ‘n vragskip uit hul opblaasbootjie gered is.
Gerrie het egter nie toegelaat dat dié voorval hom stuit nie en het nog jare daarna voortgegaan om die see gereeld aan te durf en aan verskeie regattas deel te neem.
Hy word oorleef deur sy vrou, Amanda. Sy bedank almal vir hul boodskappe en ondersteuning in dié hartseer tyd.
Vriende en familie gaan op 21 November ‘n geleentheid kry om hulde aan Gerrie te bring by Emfuleni Golf Estate in Vanderbijlpark. Ruimte is egter beperk tot net 140 gaste, dus vra Amanda dat mense wat dit wil bywoon, asseblief so gou as moontlik reëlings met Riana by 083 556 5118 moet tref.
Vaalweekblad van 10 November sal vollediger oor Gerrie se interessante lewe berig.

