Twee nuwe prinsesse in die Vaal
Veels geluk aan Danelle Dreyer en Letitia Swartz.
Die Vaaldriehoek spog met twee nuwe prinsesse. Dit volg nadat Danelle Dreyer van Meyerton en Letitia Swartz van Sasolburg onderskeidelik as eerste en tweede prinses by Mrs Grand South Africa gekroon is.
Die gala aand het 28 Oktober in Pretoria plaasgevind. Mev. Lee-Ann Naidoo is aangewys as Mrs Grand South Africa.
Danelle is ‘n besigheidsvrou en ma van vier seuns. Sy sê die kompetisie het haar bemagtig.
“Ek het drome en hoogtes bereik wat ek nie geweet het ek het nie.” Sy het ook in September die Idube Foundation gestig waar sy saam met die Midvaal Munisipaliteit en besighede ‘n groot inpak gaan maak in die gemeenskap.
“Ek is baie opgewonde hieroor. As titelhouers gaan ons aanhou dames bemagtig en bekwaam. Ons dien ‘n groot en almagtige God.
“Deur die platform het ek skouers geskuur met ambisieuse, pragtige vrouens wat ek vriendinne kan noem. Volgende beoog ek om vir die Arnold Classics Africa Model Search in te skryf.”
Veearts Letitia het ook die aand met die humanitêre toekenning weggestap. “My woorde is min, en my dankbaarheid so ongelooflik groot. Ek bring hierdie trofee Vaaldriehoek toe. Hierdie trofee behoort aan my gemeenskap.
“Die impak wat julle op my en my projekte het is groot. Sonder julle sou ek nie hier gewees het nie. “Dankie,” het sy gesê.
