Vyf geslagte vier Ouma Drienie (90) se verjaardag
Sy is nie seker hoeveel kleinkinders en agterkleinkinders sy het nie, maar vermoed dat dit so tussen 60 en 70 kan wees.
MEYERTON. – Sy het nooit in haar lewe gerook of gedrink nie. Ouma Hendrina Johanna de Lange glo dit is die rede waarom sy op 90-jarige ouderdom nog so goed lyk en so springlewendig en gesond is.
Die ouma, wat op 10 Oktober 1933 in Johannesburg gebore is en deesdae by haar seun in Meyerton woon, het verlede maand haar verjaardag by die Rothdenegemeenskapsaal in Meyerton gevier.
Familielede het van heinde en ver gekom om haar verjaardag te vier.
Natuurlik kon nie almal dit maak nie. As mens familie regoor die wêreld – insluitend Australië en Amerika – het is dit moeilik om almal op dieselfde tyd op dieselfde plek bymekaar te kry.
Ouma Drienie is nie seker hoeveel kleinkinders en agterkleinkinders sy het nie, maar vermoed dat dit nou al digby 60 of 70 kan trek – en die getalle groei aan!
“My kleinkinders trek al by die vyfde geslag. Die vyfde geslag is almal meisies,” vertel sy.

Ouma Drienie het oor die jare sewe van haar eie kinders en twee stiefkinders grootgemaak.
Sy het drie mans gehad, waarvan die mees onlangse een, Cornelius Johannes de Lange, ‘n paar jaar gelede oorlede is.
Haar ander mans se vanne was Botha en Kruger.
Ouma vertel skertsend dat sy op dieselfde dag as (die boer, soldaat en staatsman) Paul Kruger (1825 – 1904) verjaar.
Haar pa was ‘n immigrant wat van Duitsland afkomstig was. Sy het in Bethlehem in die Vrystaat grootgeword by die Charlotte Theronkinderhuis en later na Johannesburg verhuis, voordat sy haar later in Meyerton gevestig het.
Ouma het in haar jonger dae by die Poskantoor gewerk, waar sy pos afgelewer het.
“Ons het sakke van 100 kg rondgedra en dit in Johannesburg, Pretoria en Rustenburg afgelewer,” onthou sy.
Sy het ook in ‘n stadium boeke by ‘n drukkery gebind.
Ouma vertel dat sy ook al ‘n paar keer in haar lewe gedink het dat sy dit nie tot hierdie rype ouderdom sou maak nie.
Sy vertel dat sy op ‘n keer byna bokveld toe was toe ‘n dokter haar per abuis penisilien, ‘n middel waarvoor sy hoogs allergies is, ingegee het.
Ouma Drienie onthou: “Op my kaart het gestaan ‘Highly Allergic to Pennicilin’ en daar gaan hy en gee my toe wragtig ‘n inspuiting met penisilien. Vir vyf weke het ek nie geweet of ek kom of gaan nie, wat my naam is nie. Ek het nie my kinders geken nie.
“Ek het net daar inmekaargesak en ek was dodelik siek.”
Sy het ook onlangs oor ‘n tuinslang by die huis geval en loop nou met behulp van ‘n kierie.
Sy sê een van haar stokperdjies is om weer te leer loop.
Ouma se raad aan jongmense is om op hul voete te staan en vir die Here te vra om hulle te dra as hulle nie meer kan loop nie.”

