Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Die Rugby Wêreldbeker 2023 het almal se senuwees aan flarde gehad. Een punt. Die beker is by die huis. Lees meer...
RUBRIEK. – Dit was’n rowwe drie weke. Naels is afgebyt. Dink ek het ‘n maagseer ontwikkel. My kalmeerpille is klaar. Nie dat dit gehelp het nie.
Na hierdie rugby wêreldbeker kort rugby ondersteuners veel meer as ‘n ekstra vakansiedag. Ons benodig almal berading. Die trauma was te veel.
Drie weke se kopsere, spanne bestudeer en op die TV gil, het ons moeg gelaat. Fisies en psigies. Eintlik sewe weke, maar die groepwedstryde was darem nie te kwaai op die senuwees nie.
Die humeure het wel rooi geref met al Libbok se misskop pale toe, veral teen die Iere. Ai ja, en my hart is steeds seer oor die beste haker in die wêreld, Malcolm Marx en Mapimpi se beserings.
Die laaste drie weke was die ergste. Elke keer met een punt. Moet bieg, dit was lekker om te sien hoe die Engelse verloor en dit nogal op dieselfde dag as wat die Proteas hul ore aangesit het.
Tans sweef ons etlike sentimeters bokant die slaggate in die pad en selfs beurtkrag pla ons nie (so erg) soos gewoonlik nie. Ons groet mekaar met “ons het gewen.”
Die Springbokke het die beker huis toe gebring. Vir die vierde keer. Dis groot. Dis lekker. Selfs rugbyoningeligtes weet nou van skrums, strafskoppe en hoe belangrik ‘n goeie stelskopper in ‘n span is.
Ek kyk al wêreldbeker eindstryde van 1995 af. Ja, ek is so oud. Ek onthou daai skepskop van Joël Stansky in 1995. Ek onthou die vreugde op John Smit se gesig in 2007.
Die fonteine wat Springbokgroen by die Uniegebou geborrel het met die Bokke se aankoms. Schalk Burger se skaduwee wat soos ‘n reus sin oor my val toe hy agter my by die trappe afloop. Ek was daar, moenie vra hoe nie, dis ‘n lang storie.
2019 se eindstryd het ek en Pa nog op ‘n selfoon by die kombuistafel gekyk. Ek onthou die foto’s daarna. Handre Pollard wat met die Webb Ellis beker in sy arms aan die slaap geraak het.
Saterdagaand was ons vasgenael voor die televisie. Ons het nie baie gepraat nie. Skoon vergeet om ons biltong te eet. Was eers toe die eindfluitjie blaas wat ons weer ons stemme laat hoor het.
Die trane het geloop. Die oomblik was te groot. ‘n Mens kon nie anders as om saam met die Springbokke en Rassie te huil nie.
Een punt, drie keer in ‘n ry. Mensig manne, was dit nodig om so met ons senuwees te mors?
Gelukkig dat jul die eindstryd gewen het, want as jul verloor het, dan was al die hospitale vandag vol en die werksplekke dolleeg. Nou moet die Proteas net die knoop in Indië ook deurhak. Sela!
