Klassieke motors spog met jare se sjarme en styl
Klassieke motors hou 'n spesiale bekoring in. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Sondagoggend, 29 Oktober kon nie eens ‘n onverwagse terugkeer van winter die entoesiasme van klassieke motoreienaars keer nie. Vroegdag al is hul spieëlblink motors langs mekaar parkeer.
Die geleentheid was die heel eerste Coffee & Classics Cruise-in wat by 113 on Beethoven aangebied is. Na ‘n heilsame ontbyt het die eienaars die koue wind dapper aangevat en breëbors langs hul “motorbabas” gaan staan vir foto’s.
Elkeen van hierdie motors het ‘n storie en elkeen word soos ‘n kleinood opgepas en ja, getroetel. “Hierdie 1968 Ford Anglia is nog soos uit die ma uit,” beduie Lokie van Tonder langs sy roomkleur motor in tiptop kondisie.

Dié Anglia het oorspronklik aan ‘n Oom Young behoort wat nooit eers skoene aangetrek het as hy in die motor geklim het nie. Lokie het die motor destyds in Alberton gaan haal.
Hy onthou hy het sy eerste Anglia in 1976 gekoop en vandag het hy al vier van hulle.
Etienne van der Merwe se geel 1976 Chevy El Meano bakkie trek dadelik die aandag. Nie net oor die helder kleur nie, maar ook oor die besondere kunswerk agter op die bak.

Die Chevy kenteken is met twee “dog tags” versier wat Etienne se pa, Schalk van der Merwe se geboorte en sterfdatums uitbeeld. “My seun sal eendag die Chevy erf,” vertel Etienne wat die bakkie ter herinnering aan sy pa gekoop het.
Willie le Roux van Vaalpark het twee van sy spogmotors tentoongestel. Die een ‘n Ford F-100 Diesel wat “ek nou die dag op vakansie in Sedgefield raakgeloop het,” en die ander ‘n 1964 Ford Super 8. Willie versamel motors en hy en sy seun is albei ook renjaers.

Eenkant staan ‘n F100 Custom Ford Windsor bakkie. Dit behoort aan Christo van der Merwe en hy het al die pad van Alberton gekom om so bietjie met sy bakkie te spog.
Die bakkie is oorspronklik deur Nick Jooste opgebou en is in die Afrikaanse sanger, Nicholis Louw se video, Sandkasteel gebruik.
Johan Kuhn van Vanderbijlpark het al verskeie trofeë met sy Mazda 323 verower, maar sê hy is steeds nie tevrede nie en beskou sy Mazdas almal as projekte in wording.

Eienaar van 113 on Beethoven, Jackie Jacobs het by sy Cobra replika gesê hulle beplan om elke laaste Sondag in ‘n maand so ‘n geleentheid aan klassieke motorversamelaars te bied.

