Local newsNews

‘n Droomtroue om vir ewig te onthou

'n Dag waarna dié paartjie meer as drie jaar uitgesien het

VEREENIGING. – “Dit was asof die wêreld gaan stilstaan het nét vir ons… ‘n dag en oomblik in tyd wat ons vir ewig sal onthou.”
So beskryf Monique McLaggan haar en haar man Jan-Lodewyk se sprokiestroue, wat verlede maand by die luukse Lord’s Signature Hotel in Risiville plaasgevind het.

Die paartjie was in April vanjaar in die nuus toe hulle ‘n spogtroue ter waarde van R80 000 in ‘n wedstryd van die hotel gewen het. Na ‘n verlowing van drie jaar waarin hulle geld probeer spaar het vir hul troue, was hulle buite hulself van blydskap oor dié prys.
En verlede maand het die Groot Dag uiteindelik aangebreek. “Na die lang wag wat soos ‘n ewigheid gevoel het, kan ek Jan-Lodewyk nou my man noem. Ek kan my lewe nie sonder hom en ons seun indink nie. Ek is getroud met my beste vriend en ek dank God hiervoor,” sê Monique.
Sy sê haar troudag was in elke opsig perfek. “Die hotelverblyf die aand voor die troue saam met my bruidsmeisie was iets uit ‘n sprokiesverhaal. Ek was soos ‘n kind wat niks gewoond is nie! Die diens, die sagte bed, die skoon vertrek! Die pragtige wittebrood-suite was net so asemrowend. Dit het gelyk soos iets uit ‘n glanstydskrif. Die kos was vir my die hoogtepunt van die troue. Dit was ‘n besonderse feesmaal uit die sewende hemel,” sê sy.

“Dankie aan die borge en die hele span by Lord’s Signature Hotel. Dit was amazing! Baie dankie ook aan die gaste wat ons ‘McLaggan-makietie’ bygewoon het. Ons waardeer julle en koester julle. ‘n Spesiale dankie aan tannie Annelize Bornman wat my rok gemaak het en aan my ma, Elize Marais, vir die mooiste troukoek. Dan was daar ook Charné Steenkamp wat my grimmering gedoen en my soos iemand uit ‘n sprokiesboek laat lyk het. My bruidsmeisies het ook soos regte modelle gelyk danksy die borge wat hulle hare en grimmering gedoen het. Chané Bornman verdien ook ‘n spesiale dankie vir haar fotografie van die mans.

“Ons troue was so vol emosies, soms te oorweldigend, maar ek staan met ‘n dankbare hart en kan net aan God dankie sê vir Sy groot genade dat ek en Jan op so ‘n spesiale manier aan mekaar trou kon beloof,” sê Monique.

  • Die “Wen ‘n troue-wedstryd” is vroeër vanjaar deur Lord’s Signature Hotel in Ster en Vaalweekblad bemark. Die koerantgroep bedank die hotel dat ons op dié manier by die McLaggans se groot dag betrokke kon wees en wens die paartjie ‘n baie gelukkige toekoms toe.

Monique en Jan-Lodewyk saam met hul seuntjie, Aaron Lodewyk McLaggan.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button