‘Onwettige mynbedrywighede’ vir nou gestaak
Inwoners van die Houtkop-kleinhoewes sê hulle soek nie 'n myn op hul voorstoep nie.
VEREENIGING. – “Onwettige mynbedrywighede” op ‘n kleinhoewe in die Sonlandpark-omgewing is vir eers gestaak nadat ‘n grondgebruikinspekteur van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit hierdie week ‘n kennisgewing op die eienaar bedien het, maar João Geral, die eienaar, sê hy gaan terugbaklei.
“Hierdie is soos ’n boksgeveg. Hulle het nou wel die eerste rondte gewen, maar hulle kan hulle gereed maak, want ek is lus vir baklei en ek sal die volle 10 rondtes gaan!” het Geral, ‘n boorling van Madeira wat homself ‘Die Wit Tier’ noem, by navraag aan Vaalweekblad gesê.
Inwoners van die Sonlandparkkleinhoewes het hulle na die departement van minerale hulpbronne, sowel as die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gewend omdat Geral glo onwettig grond myn en die vragte na ‘n perseel in Bedworthpark tussen Vereeniging en Vanderbijlpark laat aanry waar konstruksie van die Vaal River City tans plaasvind.
Volgens ’n inwoner van die Houtkop-kleinhoewes in Sonlandpark is die gebied waar Geral tans besig is om te myn, deel van die Mount Ridge-bewaringsgebied.
“Die opgrawings vind plaas aan die voet van ‘n Klas 1-rif, ‘n bewaringsgebied wat deur die wet beskerm word,” sê die inwoners.
Inwoners kla ook dat Geral onwettig myn aangesien daar geen publieke vergaderings gehou is of impakstudies gedoen is nie en Geral boonop nie ‘n lisensie het om daar te myn nie.
Dan word daar ook gekla oor vragmotors wat op en af ry en die paaie beskadig.
“Daar is ook talle huise rondom die perseel waar grond opgegrawe word. Kinders loop daar rond en daar is geen versperrings of waarskuwingsborde wat verhoed dat hulle in die oopgroefmyn val en hulself beseer nie,” meen die inwoner.

Geral het by navraag gesê dat hy besig is om ’n akwaponiese dam op sy kleinhoewe te bou.
Hy het erken dat hy die vragte grond wat opgegrawe word teen ‘n wins verkoop en dat dit dan vir konstruksiedoeleindes gebruik word, maar sê hy lewer die grond maar teen ’n minimale bedrag van “R50 per vrag”.
Die geld wat hy maak gebruik hy glo om sement vir sy dam aan te koop.
Volgens Geral is daar ook planne vir ’n “groen stad” met 15 hektaar van sonkragopwekkingspanele en ‘n mark waar vars produkte aan plaaslike inwoners gelewer word teen goedkoop.
Dit sal as “Vaal Madeira” bekend staan.
Hy beplan ook om vars produkte van uitstaande gehalte na Madeira uit te voer.
Geral meen al hierdie projekte sal die gemeenskap en omliggende omgewing baat.
Geral sê hy het die eiendom, wat as landbougrond geklassifiseer word, bekom vir landboudoeleindes en dit is juis waarmee hy besig is: landbou.
Oor waarom geen impakstudies gedoen is nie sê hy: “As ek al die prosesse moet volg sal ek 181 wees en niks sal gedoen wees nie. Die punt is dat ek as ’n boer daarop geregtig is om ’n dam te bou.”
Hy sê hy het reeds met die stadsraad, insluitend die burgemeester oor sy planne gepraat en dat hy die groen lig gegee is om voort te gaan.
Hy voeg by dat hy samesprekings met regeringslui in Madeira voer oor moontlikhede van direkte vlugte tussen Madeira en die beplande lughawe in die Vaaldriehoek.
Hy praat ook van ‘n beoogde landbouskool waar hy mense wil leer om te boer.
Geral sê sy boumateriaal word gesteel terwyl die projek sloer.


