Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Op 'n Saterdagaand by die Voortrekkermonument. In die Senotaafsaal nogal. En daar dag ek, ek sien 'n spook. Lees meer...
RUBRIEK. – Verlede Saterdagaand is ons by die Voortrekkermonument. Dis ‘n groot okkasie. Die bekendstelling van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) se nuwe digbundel, Stemme uit die Suiderland VIII.
Die aankoms alleen is ‘n openbaring. Hier word net Afrikaans gepraat. Kry parkeerplek by die voet van die monument. Die funksie is in die Senotaafsaal.

Voordat my rumatiekknie en skroefenkel kan beswaar aanteken oor die oormag trappe, stop’n oom met ‘n tipe gholfkarretjie langs ons.
“Ek kom jul nou haal, gaan net die mense aflaai,” glimlag hy breed van onder sy breërandhoed. Minute later stop hy met ‘n swierige draai by ons. Ek kry die indruk hy verbeel hom dis ‘n wa en span osse.
Daar het intussen ‘n ouer paartjie by ons aangesluit. Ons staan terug dat hul die middelste sitplekke inneem. Agter op die wa (skuus karretjie) is twee sitplekke. Mens se bene hang na benede net soos op ‘n outydse wa.
Ons kry ons sit. Ek vat die staalraam stewig vas. Hier is nie veiligheidsgordels nie. Die oom trap die petrol diep en ons rits teen ‘n onrusbarende spoed na bowe.
Plek-plek sien ek al die week se Vaalweekblad voorblad. “Joernalis val haarself desdinges by Voortrekkermonument.” Ok. Dink nie dis die woorde wat my geagte redakteur sou gebruik nie, maar ja…
Ek was maar benoud. Eind goed alles goed. Ons bereik die hoogtes in een stuk. Kry koers om die ou monument waar dansers vrolik op ou FAK-liedjies Volkspele doen.
In die Senotaafsaal is alles mooi getooi. Ek beloer die skilderye, die muurbehangsels, waardeer die blikbekertjie met Afrikaans is ons erfenis op gedruk.
Kyk dan verby die verversingstafels, die videokamera, die podium. Soekend na die kenmerkende prentjies wat manlik en vroulik aandui.
Vanderbijlpark lê ver agter ons. Ek het ‘n bottel koeldrank uitgedrink, met natuurlike gevolge.
Ons vra drie mense alvorens ek die aanwysings na ‘n plek van verligting het. Af met smal trappe. Geen badkamer begroet my nie. Wel, ‘n veselglas seeikoei en krokkodil. Bosgeluide.
Om ‘n draai is daar uitbeeldings van Voortrekkers vasgevang. Na ‘n volgende draai gewaar ek ‘n jong Voortrekker op ‘n riempiesstoel. Skrik my half koud toe hy my skielik aanspreek.
Ek dag eers dit spook, maar die spreker is toe van vlees en bloed. Wou net vir my sê, daar is reeds ‘n tannie in die enkel verligtingskamer.
Die res van die aand verloop seepglad. Uiteindelik breek die groot oomblik aan, die nuwe digbundel word onthul. Ek haas my na die tafel en kry my voorafbestelde boek.
Soos ‘n kind op Kersoggend maak ek naarstigtelik oop. Daar vind ek dit. My naam, twee maal in die dikke boek van honderde gedigte. En dit was goed en dis steeds lekker. Sela!
