Local newsNewsNews

‘My man was in vlamme’

Die Putter-egpaar van CE4 het die gemeenskap se ondersteuning nodig nadat Herman ernstige brandwonde opgedoen het tydens 'n fratsongeluk.

VANDERBIJLPARK. – “Toe ek om die hoek van die huis kom, was my man in vlamme. Ek was so in skok dat ek ‘blank’ geslaan het en nie geweet het wat om te doen nie.”

So vertel mev. Daleen Putter van CE4 oor die fratsongeluk waartydens haar man Herman, ernstige brandwonde opgedoen het.

Hy is steeds in die Intensiewe Sorgeeenheid (ICU) en veg elke dag om sy lewe. Sy wonde word elke derde dag in die teater skoongemaak om vas te stel of daar met ‘n veloorplanting begin kan word.

10 September 2023 het egter die Putters se sorgvrye lewens vir altyd verander.

“Daardie Sondagoggend het my man besluit om eerder ‘n TV ‘boks’ te verbrand as om dit net buite saam met die vullissakke weg te gooi. Ons albei is na buite. Ek met ‘n botteltjie met ‘n bietjie brandspiritus.

Herman het dit oor die ‘boks’ gegooi en aan die brand gesteek, maar dit wou egter nie brand nie,” vertel Daleen. Sy is toe terug in die huis in om te gaan kyk of daar nog brandspiritus in die huis is. Intussen het Herman brandstof oor die ‘boks’ gegooi.

Die brandspiritus en brandstof saam het ‘n groot vlam gemaak en Herman was in vlamme.

Daleen het vir ‘n wyle nie geweet wat om te doen nie, maar besef sy moet haar man help. Sy het toe sy hemp oopgeruk en vinnig van sy lyf af gekry.

“Terwyl ek hom help met die hemp, skreeu hy: ‘los my, jy gaan ook brand’. Daardie woorde en prentjie gee my steeds slapelose nagte,” sê Daleen.

Herman se broek was nie so maklik om uit te trek nie. Hy het probeer, maar kon nie. Hy het toe na die agterdeur gehardloop waar hy ‘n kombers gegryp het om die vlamme op sy bene te smoor.

“Ek het sy winterskamerjas gegryp en hom gehelp om dit aan te trek, en die buurman gebel wat binne minute daar was,” vertel Daleen.
Herman is by Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark opgeneem waar hy dadelik pynmedikasie gegee en sy wonde in plastieks toegedraai is.

“Toe hy begin ruk, het hulle die foelie oor hom gegooi om vog binne te hou. Die dokter het besluit om hom oor te plaas na die Netcare-hospitaal in Alberton omdat hulle ‘n goeie brandeenheid het,” sê Daleen.

Click asb. op die foto om Herman te help. Hy het die geemeenjskap se ondersteuning nodig.

Daar is Herman dadelik teater toe geneem om sy wonde te behandel.

Woensdag, 13 September het Heman se toestand egter baie versleg. Daar is besluit om hom op sy maag te draai omdat sy longe nie reg gefunksioneer het nie. Daar is toe vog van sy longe gehaal. Hy was tussen 90% en 100% van ‘n ventilator afhanklik.

Maar Herman het baklei vir sy lewe en veg steeds voort.

“Ons benodig fondse vir die bybetaling van verskeie mediese behandelings en vir rehabilitasie agterna waar Herman weers sal moet leer loop. Ons mediese fonds is uitgeput.”

Fondse word onder meer benodig vir ‘n veloorplanting, bloedtoetse, x-strale, fisioterapie, spraakterapie, dieetkundiges, narkose en die huur van masjiene.

“Ons is gelowige mense en ons weet dat daar baie mense is wat saam met ons bid. Ons weet die pad vorentoe gaan nie maklik wees nie, maar gebed maak dit makliker. Ons is dankbaar vir enige hulp,” sê Daleen.

Daar is ‘n fonds gestig en mense wat ‘n bydrae wil maak kan die QR-kode skandeer.

https://www.backabuddy.co.za/hermanus-putter-5744158788656015207

Skandeer die QR kode om tot Herman se
fonds by te dra.

Al wat van Herman se hemp oorgebly het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button