Local newsNewsNews

Waar kuns en kuier seëvier

Wanneer kunstenaars saamkom vir 'n vredige uur of twee van kuier en skilder.

VAALPARK. – Kunstenaars weet hoe terapeuties teken, skilder en pottebakkery kan wees. Op hul eie kan hul in hul eie wêreld wegraak.

‘n Groep kunsstudente vat dit ‘n stappie verder. Elke Maandagoggend kom hul bymekaar vir waterverfklasse. Al vir langer as 20 jaar.

Saam om ‘n houttafel skep hul die mooiste skilderye, word daar kopstukke oor alles en nog wat gesels van tegniek tot by die lewe en sy kronkelpaaie.

Charlotte Bresser is aan die stuur van sake. Die voormalige kunsdosent, weet net hoe om te inspireer en te motiveer. Die ses kunstenaars om die tafel konsentreer, skerts, drink tee en verf alles tegelyk.

Hier het hul al enige iets van portrette tot by landskappe geverf. Annelie Havenga was op haar dag ‘n chemiese ingenieur, maar kuns loop in haar are. Haar oupa en pa was kunstenaars en sy het as kind al gesigte uit tydskrifte geteken.

“Ek is al 20 jaar deel van Charlotte se kunsklas,” vertel sy. “Ek hou baie van teken, maar op die oomblik is waterverf my gunsteling. Charlotte inspireer my, want sy hou ook van sterk kleure soos ek.”

Rusha du Toit was maar in gr. 2 toe sy kunsklasse by Charlotte begin neem het. Daar was ‘n tyd wat sy nie geskilder het nie, maar het in die grendelstaat tyd weer die verfkwas opgeneem.

“Dit was vir my lekker om weer te kan begin verf. Dis soos enige ander talent, jy moet oefen en kunsfiks word,” vertel sy

Haar ma, Mignion du Toit is ook deel van die kunsgroep. Sy het ook kleintyd al begin teken en onthou dat albei haar ouers baie kunstig was. Later jare het sy kuns studeer en was lank onderwyseres by LS Taaibos.

“Kuns is vir my baie terapeuties. Dis soos meditasie as jy eers begin,” beduie sy. “Dit hou ons koppe reg,” glimlag sy en vertel trots dat haar vyfjarige kleinkind ook by die huis saam met ouma verf.

Marietjie Putter was ‘n museumkundige by onder andere die Technorama museum in Vereeniging. Sy en ‘n medekunstenaar, Rina de Klerk wil juis ‘n massiewe projek aanpak en al die museum se kunswerke vir ‘n slag behoorlik skoonmaak.

Die enigste man in die groep, Ewald Calitz sê hy het onlangs eers met waterverfklasse begin. “My dogter het kuns op skool geneem en dit het vir my lekker gelyk, toe koop ek my eie waterverfstelletjie.”

Hy was opsoek na iemand om hom lesse te gee toe hy in Charlotte vasloop in ‘n kunswinkel.

Dit is duidelik dat almal hul saamwees tye baie geniet en hulle is dit eens dat hul eersdaags saam aan ‘n aan ‘n uitstalling wil begin werk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button