Local newsNewsNews

‘Ek het hom gesteek’, erken beskuldigde

Hy het in 'n pleitverduideliking erken dat hy die oorledene met 'n mes gesteek het, maar kan nie onthou presies hoeveel keer nie.

*Waarskuwing. Die storie bevat grafiese materiaal wat sensitiewe lesers mag ontstel.

VEREENIGING. – Raymond Metz (21), ‘n jong man van Leeuhof, wat saam met sy broers, Shane Metz (24), Simon Anton “Babatjie” Metz (18) en ma, Lindi Falch (44) van die moord op Benjamin Lotz (52) aangekla word, erken in ‘n pleitverduideliking dat hy die oorledene met ‘n mes gesteek het.

Raymond pleit egter onskuldig op die moord van Benjamin Lotz.

Die pleitverduideliking is verlede week deur Raymond se regsverteenwoordiger, Charles de Beer, aan die hof voorgelees.

Benjamin Lotz is dood op die vloer van sy huis in Leeuhof aangetref. Foto: Verskaf

Hierin vertel Raymond dat hy en ‘n vriend, Estivan Delport op 22 November 2021, die aand wat Benjamin Lotz vermoor is, in ‘n vedljie na musiek geluister het toe inwoners hulle gevra het om die musiek sagter te sit.

Nadat Raymond en Estivan geweier het, het Benjamin hom glo vir Raymond met ‘n panga op die hand en op die been geslaan.

Raymond vertel in die pleitverduideliking dat hy en Estivan na sy (Raymond) se huis waar hulle sy broers daarvan vertel het.

Raymond Metz (heel links), peinsend buite die Benoni-landdroshof. Regs van hom is sy suster Carly Theron en broer, Shane Metz. Shane is ook ‘n medebeskuldigde in die saak. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Raymond se weergawe is hy en sy broers en ma toe saam na die oorledene se huis.

Hy vertel dat Benjamin met ‘n metaalpyp in die een hand en panga in die ander hand uit sy huis gekom het en dat Benjamin toe ‘n baksteen na sy ma, Lindi, gegooi het, waarna sy broer, Shane, oor Benjamin se heining geklim het en met Benjamin baklei het.

Volgens Raymond se weergawe is sy broer, Simon Anton “Babatjie” later ook oor die muur om vir Shane te gaan help.

Volgens Raymond het hy ook oor die heining gespring om sy broers te gaan help nadat Benjamin ‘n panga in sy rigting gegooi het, maar hom gemis het.

Die vermoorde Benjamin Lotz (52) van Leeuhof. Foto: Verskaf

Raymond sê hy het ‘n klein messie by hom gehad waarmee hy Benjamin gesteek het.

Hy kan egter nie sê hoeveel keer hy die oorledene gesteek het nie.

Volgens Raymond het hy en sy broers daarna Benjamin se erf verlaat.

Terwyl hulle die toneel verlaat het, het Raymond gesien hoe Estivan die oorledene met ‘n baksteen gooi.

Estivan Delport, hier op die foto, het volgens Raymond die laaste baksteen gegooi. Foto: Christiaan Cloete

Raymond se regsverteenwoordiger gaan later aanvoer dat Lotz nie aan die steekwonde beswyk het nie, maar dat hy ‘n aanval gekry het weens ‘n ander besering wat hy tydens die aanval opgedoen het.

Die saak duur voort.

Raymond Metz en sy ma Lindi Falch in die hof vir die moord van Ben Lotz. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button