Onse Mirandi deur na finaal van Die Kontrak 3
Sy mag maar sing en sy is van die Vaaldriehoek! Veels geluk Mirandi jy verdien jou plek in die finaal.
VEREENIGING. – Dit was ʼn naelbyt 10 weke, maar Sondagaand is Mirandi en Chris Steyn as Die Kontrak seisoen 3 se finaliste aangewys.
Albei gaan nou by die Afrikaans is Groot konserte optree. Die wenner word by die eerste Afrikaans is Groot konsert die 24ste November bekend gemaak.
Mirandi het in ‘n telefoniese onderhoud gesê sy is baie opgewonde. “Daar is vir my en Chris elkeen spesiaal ʼn liedjie geskryf en die musiek video’s word 17 November bekendgestel.
“Hierdie week moet ek al gaan klere pas vir Afrikaans is Groot en Maandag begin ons te oefen.”
Sy het Sondagaand weer die kenners op die paneel se asems weggeslaan met haar weergawe van “Ek hou van jou.”
Week na week het Mirandi haar staal gewys en talent geslyp. Sy kan bykans enige genre aanvat en ʼn sukses daarvan maak, van ligte Afrikaanse musiek tot by Country.
Sy is gebore en getoë in Carletonville, maar is al ‘n geruime tyd ‘n Vaaldriehoeker saam met haar man, Chris. Sy sing al sedert vyfjarige ouderdom en onthou hoe sy, haar ouers en sussies by kerke opgetree het.
Mirandi, ons staan agter jou en wens jou voorspoed toe vir die finale rondte. #TeamMirandi gaan groot en hou ons Valies se naam hoog.
Volg gerus Die Kontrak 3 op e.TV kanaal 195 DSTV elke Sondagaand om 18:15. Hierdie Sondag gaan daar bietjie agter die skerms by die finaliste se vriende en familie gekuier word.
Like en deel Mirandi se video’s wat op Tiktok, Instagram (@mirandimorsner) en op die Facebookblad Die Kontrak beskikbaar is. Onthou om die hutsknoppie #TeamMirandi by te sit wanneer ʼn video gedeel word.
