Vaarwel aan ‘n geliefde sport- en sakeman
'n Private viering van Gerrie Boshoff se lewe sal op 21 November 2023 in Vanderbijlpark gehou word.
Die berig is eerste in Vaalweekblad van 10 November 2023 gepubliseer
VANDERBIJLPARK. – Boodskappe van meelewing stroom steeds in na die afsterwe van mnr. Gerrie Boshoff, bekende seiljagvaarder, gholfer, muurbalspeler en sakeman van die Vaaldriehoek. Gerrie is Donderdag, 2 November, in die Wits Hospice in Johannesburg oorlede na ‘n stryd teen kanker.
Met sy gasvrye persoonlikheid en lewenslustige aard het hy deur die jare nie net ‘n groot vriendekring in die Vaaldriehoek opgebou nie, maar ook in die uithoeke van die land en die res van die wêreld waar hy gereeld gaan seil het.
Een van sy oudbemanningslede, Doug Macleod van Australië, sê dat selfs die Cairns-seiljagklub waar Gerrie talle vriende gehad het, se vlag hierdie week halfmas hang as huldeblyk aan hul geliefde vriend. “Ek sal hom as ‘n uitsonderlike vriend en ware inspirasie onthou,” sê Doug.
Verskeie seilgeesdriftiges beskryf Gerrie as ‘n legendariese seiler wat altyd daarin kon slaag om rustig te bly in die vreesaanjaendste uitdagings op see. Hy word egter ook onthou vir sy liefde vir gholf, sy talente as kok, sy oop hart vir mense en sy opregte omgee vir sy voormalige personeel van Quality Assured Autobody – sy onderneming wat hy onlangs verkoop het.
Gerrie was goed bekend met die waters om die Australiese kus, die Turkse kus en die Griekse eilande, die Kanariese eilande, Kaap Verde en Mauritius. Buiten dosyne ander regattas het hy die afgelope dekades ook ses Kaap na Rio-wedvaarte voltooi. In 2007 het hy sy lewensdroom, om rondom die wêreld te seil, aangepak. Dié reis is in die opvolgende vier jaar herhaaldelik deur terugslae onderbreek, soos toe sy seiljag Wizard of Africa se mas naby die Australiese kus gebreek het. Die grootste ramp was egter toe Wizard in 2011 naby die Mosambiekse kus gesink het. Gerrie en sy bemanning was die nag van 3 November 2011 vanaf Reunion na Durban onderweg vir die laaste skof van hul wêreldreis toe die seiljag ‘n swaar voorwerp in die water tref en vinnig begin sink het. Wizard se bemanning het etlike ure in hul reddingbootjie gedobber voordat hulle deur die handelskip Eva Schulte raakgesien en opgepik is. Gerrie het egter nie toegelaat dat dié terugslag hom stuit nie en het daarna nog jare voortgegaan om die see gereeld aan te durf en aan regattas deel te neem.
Hy het by geleentheid sy liefde vir die see en wind só aan Vaalweekblad verduidelik: “Die Suid-Atlantiese oseaan is vir my baie besonders…. mooiste, mooiste blou see en warm pasaatwinde. As ek kon, sou ek die res van my lewe op see spandeer. Ek het lief geword vir die see, sy skoonheid en misterie… die maan, sterre en helderblink planete wat op geen ander plek so pragtig lyk nie. Ek beskou myself baie gelukkig dat ek die meeste van my verjaardae op hierdie besondere oseaan in ‘n klein bootjie kon deurbring.”
Gerrie word oorleef deur sy vrou, Amanda, met wie hy nege jaar getroud was. Hulle het ‘n baie hegte verhouding gehad en gereeld saam gholf gespeel. Sy en haar familie bedank almal vir hul boodskappe en ondersteuning in dié hartseer tyd. ‘n Private viering van sy lewe sal op 21 November 2023 in Vanderbijlpark gehou word.




