Local newsNewsNews

Beskuldigde kry epileptiese aanval by hof

Hofverrigtinge is Woensdagoggend (15 November 2023) tot stillstand geruk toe een van die beskuldigdes in die saak ‘n “epileptiese aanval” gekry het en die hofsaak uitgestel moes word.

VEREENIGING. – Op die dag wat Raymond Metz (20) in die getuiebank geskuif het om te getuig oor sy aandeel in die moord op Benjamin Lotz (52) van Leeuhof het hy ‘n epileptiese aanval gekry.

Raymond staan saam met sy ma, Lindi Falch (44) en broers, Shane Metz (24) en Simon Anton “Babatjie” Metz (18) tereg op aanklagte van moord. Hulle het almal onskuldig op die aanklagte gepleit.

Die broers het op die aand van 22 November 2021 die oorledene glo in sy erf aangerand na ‘n stryery oor harde musiek vroeër die aand, waarna hy beswyk het.

Die staat het Dinsdagoggend (14 November 2023) sy saak afgesluit nadat verskeie getuies ingeroep is om te getuig oor die gebeure op die aand wat die seuns vir Benjamin aangerand het.

Die verdediging gaan nou getuies roep, maar die saak kon Woensdagoggend en Donderdagoggend (16 November 2023) nie voortgaan nie omdat Raymond glo in die hofbadkamer ‘n epileptiese aanval gehad het en besig is om te herstel.

Volgens ‘n beampte by die Benoni-landdroshof, waar die verhoor plaasgevind het, het die voorval die oggend gebeur.

Vicky de Bruyn, die meisie van Raymond se broer, Shane, het egter aan Vaalweekblad vertel: “Raymond het klaar getuig van die oggend af en eers na middagete het hy die aanval gekry.”

Raymond het vroeër in ‘n pleitverduideliking wat aan die hof voorgelees is erken dat hy die oorledene verskeie kere met ‘n klein messie gesteek het.

Raymond Metz. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button