Vaal Toy Run: Dis weer tyd!
Kyk uit Sondag vir die massa motorfietse met speelgoed getooi in Vanderbijlpark.
VANDERBIJLPARK. – Die jaarlikse Toyrun van die Centurions Mc Vaal vind 19 November plaas. Hierdie is altyd ‘n hoogtepunt op die biker kalender.
Sondag kom motorfietsryers van klubs so ver as Johannesburg, die Wesrand en Oosrand in Vanderbijlpark bymekaar en elke motorfiets sal kreun onder speelgoed, kos en skryfbehoeftes.

Rian Beeslaar van die Centurions Mc Vaal sê hierdie is die 28ste Toy Run wat die klub organiseer. Elke jaar word die geleentheid groter.
“Ons is regtig dankbaar vir al die besighede wat inspring en ook bydraes lewer. Vir ons gaan dit om ʼn verskil in die lewens van kinders en bejaardes te maak.”
Die dag skop af met ʼn massarit vanaf die Dros in Vanderbijlpark om 10:00. Dit behoort ʼn skouspel te wees van klank en kleur met Kersfeesvader wat die tog op ʼn Jeep sal meemaak. Die groep motorfietsryers sal hul weg vind na die Centurions Mc Vaal se klubgronde in Shakespearestraat.
By die klub sal die dag se vieringe behoorlik afskop met musiek en vermaak vir oud en jonk. Kosstalletjies en ʼn kontantkroeg sal ook beskikbaar wees.
Rian nou almal uit om die dag saam met hulle te kom geniet. Toegang is gratis of bring nie-bederfbare voedsel, ʼn speelding of skryfbehoeftes saam.
In 2022 het die Vaal Toy Run 10 bakkievragte met produkte saam met hul vennote ingesamel. Hierdie jaar hoop hul om selfs meer in te kry om soveel as moontlik behoeftige kinders en bejaardes te help.

“Ons samel net in, Solidariteit Helpende Hand, het reeds ʼn lys van instansies en welsynsorganisasies waar hul die goedere heen sal neem,” het Rian gesê.
