Local newsNewsNews

Sussie is gevind!

Die naweek het met 'n hoogtepunt begin toe Sussie, die verlore Jack Russell-hondjie, vanoggend gevind is.

VANDERBIJLPARK. – Sussie het geen ernstige beserings opgedoen nie, maar was baie vuil, een van haar pootjies vol bosluise en uitgeput.

Die Mullers van Bernard Pricestraat se nagmerrie en soektog na Sussiel, hul geliefde Jack Russell-hondjie, het vanoggend 17 November tot ‘n einde gekom.

Twee voetgangers het Sussie in die veld naby die hoofpad agter Vaal Mall gewaar en daarna is daar vinnig tot aksie oorgegaan.

Sussie was egter bang en verwilderd en daar moes mooi te werk gegaan word om haar te kry.

Oubaas Elvin het eindelaas op die grond gaan lê en haar kans gegee om op haar eie nader aan hom te beweeg, voordat hy haar in arms kon kry.

Sussie was baie vuil en nadat sy gebad is, is sy met ‘n lekker stukkie steak en ander kosse bederf.

“Sy is baie moeg en ons probeer haar nou kans gee om bietjie te rus,” vertel Elvin.

Vaalweekblad gaan Saterdag (sodra Sussie kans gehad het om weer haar voetjies te vind) daar inloer en sal lesers op hoogte hou.

Sussie, vuil maar ongedeerd, in pa Elvin se arms.
Sussie rus nou, nadat sy gebad en met ‘n lekker stukkie steak bederf is.
  • Die gesin se nagmerrie-ondervinding het verlede Maandag (6 November) begin toe Kayla Muller (’n matriekleerling van Hoërskool Transvalia) na eksamen by haar ouerhuis in Bernard Pricestraat opgedaag het en deur drie gewapend mans gekonfronteer is.

Kayla het gelukkig daarin geslaag om te ontsnap en haar ouma (85) en die huishoudster te waarsku.

Die Mullers se twee honde, Sussie en Bumper (Jack Russell-terriers), het Kayla teen die aanvallers probeer beskerm.

Die gewapende mans het ‘n televisie gesteel en daarmee op die vlug geslaan. Dit is toe dat Sussie hulle agterna gesit en nie weer haar weg huistoe gevind nie.

 
Back to top button