Local newsNews

Diabetes by kinders: ‘n Veeleisende lewenswyse

November is Diabetes-bewusmakingsmaand. Neem deel aan 'n projek om die lewe bietjie soeter te maak vir kinders met dié siekte.

 

“Wat eet ons vanaand?” Die meeste ma’s sug by voorbaat as hulle dié vraag hoor. Vroue met gesonde gesinslede kan darem gewoonlik iets in die koskaste vind om aanmekaar te slaan, maar vir ma’s met diabete in hul gesinne is dit nie so maklik nie. ‘n Gesonde daaglikse dieet is vir sulke ma’s ‘n voortdurende frustrasie.
Mev. Sorika Swanepoel van Vanderbijlpark is een so ‘n ma. Sy ken die diabetespad maar te goed want sy het dit saam met haar oorlede man gestap, en die afgelope agt jaar ook saam met haar dogter, Amoré (12).

Sorika se man, LJ (41), het op 2 September vanjaar weens diabetes gesterf. As enkelma moet Sonika nou die pad verder alleen saam met Amoré, ‘n Tipe 1 diabeet, aandurf.
“Amoré is op 4-jarige ouderdom gediagnoseer. Vandag is sy ‘n 12-jarige leerling van die Laerskool Vaalrivier. Om ‘n kind met diabetes te hê is nie aldag maklik nie. Dit ontwrig ons lewens op so baie maniere…. buiten vir ‘n spesiale dieet is dit ook op-en-af hospitaal toe, gereelde doktersbesoeke, en ‘n lewenswyse van absoluut versigtig leef,” sê Sorika.

Amoré het reeds geleer om haarself vyf keer per dag self met insulien in te spuit, en dan moet sy ook waak teen die “groot gif” – suiker.
“Sy eet sover as moontlik dieselfde kos as ek, maar ons sny alle suiker uit haar dieet uit om haar suikertelling laag te hou. Ons probeer altyd ryskoekies en Provitas in die huis hê want sy kan dit met ‘n stukkie kaas of ‘n vleisie eet. Appels is ook goed. ‘n Bietjie pasta met “pienk sout” en opgekookte wortels of botterskorsie ook. Te veel sout en souse is uit. Lekkernye soos pannekoek en vetkoek is ‘n no-no, maar sy kry soms ‘n bietjie springmielies as ‘n bederfie. Gewone lekkergoed is verbode. Suikervrye sjokolade is so duur dat dit eintlik onbekostigbaar vir ons is. Ek probeer haar elke dag na die beste van my vermoë beskerm want ons almal weet wat gebeur as ‘n diabeet se suiker die hoogte inskiet.”

Diabetes word geassosieer met seerplekke wat nie gesond word nie, gedurige infeksies, oogprobleme en ander lastighede wat die lyer sowel as die res van die gesin se lewe bemoeilik. “Daar is soveel dinge waarna ons moet oplet. Sy mag byvooerbeeld nie in water swem wat nie skitterskoon is nie, en ons moet altyd daarteen waak dat sy nie in iets trap wat haar kan seermaak nie.”
Amoré was die afgelope jaar al vyf keer in die hospitaal se hoësorg-kinderafdeling en tog bly sy altyd moedig. “Sy is van kleins af die dapperste dogtertjie wat ek ken,” sê haar ma.

* Alle skole en kleuterskole in die Vaal kan tot einde November deelneem aan ‘n uitdaging om suikervrye eetgoed in te samel en aan ‘n maatjie met diabetes te skenk. Meer besonderhede oor die projek is beskikbaar by Sorika by 064 228 4782.

Laat toets jou suikervlakke op 23 November 2023 by Mediclinic Emfuleni in Vanderbijlpark.

Mev. Sorika Swanepoel en haar 12-jarige dogter, Amoré.
Amoré Swamepoel bly ‘n moedige Diabetes “Warrior” al was sy die afgelope jaar reeds vyf keer in die hospitaal se  instensiewe sorgeenheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button