‘Ma Ansie kon skoonheid in álles sien’
"Sy het die vermoë gehad om oor byna enigiets verwonderd te raak. Selfs in die kleurnuanse van dorre hoëveldse gras het sy skoonheid raakgesien," sê haar seun Angus
Die skilder, Anna Taylor, wat die grootste deel van haar volwasse lewe in Vereeniging gewoon het, is op 26 Oktober in die ouderdom van 86 oorlede. Die nuus oor haar afsterwe in Plettenbergbaai is vroeër hierdie maand bekendgemaak deur haar seun, die bekende beeldhouer Angus Taylor, wat ook in Vereeniging grootgeword het. Hy sê sy ma se heengaan is hartseer, “maar sy was tevrede en haar oorgang was so kalm moontlik”.
Vaalweekblad was bevoorreg om Anna gedurende haar jonger jare in die Vaaldriehoek te leer ken – ‘n komplekse maar spankelende vrou wat haar kunssinnige aard en die hippie-era waaruit sy gekom het, met gemak kon integreer met haar alledaagse verantwoordelikhede en haar oorweldigende liefde vir haar kinders. ‘n Grasieuse vrou met ‘n vlymskerp intellek en genotvolle humorsin; ‘n vrou wat tegelyk delikaatsag en rateltaai kon wees.
Sy het die laaste paar jaar by haar dogter Mashca en twee van haar ses kleinkinders gewoon. Voorheen het sy eers by Angus en daarna by Victor, haar oudste seun, gewoon. “Ons het gesamentlik na haar omgesien, en met vier vriendelike versorgers se hulp was sy goed versorg en omring deur liefde,” sê Angus.
Dit was onlangs sy voorreg om haar solo-uitstalling by Art on Main in Knysna te open, waar haar landskappe en blomvelde te sien was; kombinasies van herinneringe en indrukke wat sy meesterlik met olieverf en ‘n paletmes geskep het.
“Sy was my onderwyser in alle aangeleenthede; in kuns heel letterlik omdat sy ‘n skilder was wat aan privaatskole en Unisa studeer het. Sy het ‘n aanvoeling vir die skeppende kuns gehad en met oorvloedige passie haar liefde vir die letterkunde, digkuns, kuns en musiek met my gedeel, waarvoor ek ewig dankbaar is.
“Vir my was sy ‘Ansie’ eerder as ‘Ma’, ‘n persoon in eie reg. En wanneer jy haar geïrriteer het, sou sy nie huiwer om dit te sê nie. Van kleins af kan ek ons gemaklike, reguit verhouding onthou, ‘n ware vriendskap. Selfs kleintyd het sy gesorg dat ‘n mens jouself as ‘n volwaardige individu uitleef, nie as haar maaksel nie. Sy het jou nooit met haar gesag probeer oorheers nie. Sy het jou toegelaat om self te besluit wie jy wou word, terwyl sy jou deurentyd met haar rustige wysheid gelei het.
“Sy het die vermoë gehad om oor byna enigiets verwonderd te raak. Selfs in die kleurnuanse van dorre hoëveldse gras wat die meeste mense vaal en neerdrukkend sal vind, het sy skoonheid raakgesien. Sy het geweet hoe om ‘n mens se fokus te verskuif sodat jy die positiewe kan vind, ongeag hoe minimaal, in byna enige situasie. Lewensvreugde het haar lewe gekenmerk. Die meeste van die tyd was sy aan die skep, selfs net iets kleins, terwyl sy gedurig aan die lees was op haar geliefkoosde medium, haar iPad. Sy het nooit teruggedeins vir ‘n veranderende wêreld of vir tegnologie nie, daarom is dit vreemd om te dink sy het in haar eerste ses lewensjare nog per ossewa saam met haar gesin na hul winterplaas gereis.
“Soos soveel ander mense is ek dankbaar dat ek haar geken het, maar ek voel ongelooflik bevoorreg dat sy my ma was, my onderwyser, en die grootste hegte vriendin wat enigiemand oor so ‘n lang tyd kon hê. Daar is geen slotsom vir haar nie omdat sy ons bestaan sal bly beïnvloed tot ons ook eendag hierdie aarde verlaat. Ek sal jou ongelooflik mis, my liewe Ansie, en ontsettend baie dankie vir alles.”


