Rolbaldag help 24 kinders
Dis lekker as mense hande vat om 'n verskil te maak. Lees meer...
SASOLBURG. – Wanneer Valies besluit om saam te staan, dan gebeur daar dinge. Goeie dinge. Vra maar vir die twee Engo Kinder- en Jeugsorgsentrums in Sasolburg.
Die seuns- en meisiehuise is nie ver van mekaar geleë nie. Albei huisves 12 kinders tussen 0 en 18 jaar, in baie gevalle boeties en sussies van dieselfde families.
Die huismoeder by die meisies is Corrie Muller en in die ander huis maak Kathleen Badenhorst die seuns groot.

Engo is ‘n nie-winsgewende en nie-regeringswelsynsorganisasie wat hoofsaaklik in die Vrystaat werk en versorging en berading bied aan kinders, gesinne, bejaardes, gestremdes en pasiënte in nood.
Alhoewel die twee huise in Sasolburg gerieflik toegerus is, al die kinders klere en speelgoed het en daar genoeg is om te eet, word elke rand ‘n paar maal omgedraai weens die hoë brandstofkostes en dan ook die munisipale rekeninge elke maand.
Voorsitter Dirk van der Westhuizen is al 21 jaar betrokke by die twee huise en behalwe dat hy ‘n ogie hou oor die boeke is hy ook die een wat gereeld uit sy eie sak die kinders van lekkergoed, skyfies en roomys voorsien.

Om ekstra geld in te win vir die twee huise, verkoop hy hout en houtskool. ‘n Paar maande gelede het Arrie Coetzee van Public Eye vir Dirk en die huismoeders ‘n belangrike vraag gevra, wat is hul behoeftes?
Die antwoord was maklik, die uitvoering daarvan moeiliker. Hulle was dit eens dat gasstowe en solar hul baie sal help om die begroting elke maand te laat klop.
R600 000 is benodig om die droom ‘n werklikheid te maak. Arrie het nie op hom laat wag nie en kort voor lank was daar vele borge en vennote aan boord om ‘n rolbaldag ten bate van die jeugsorgsentrums te beplan.
Die Sasolburg Rolbalklub het dadelik hand opgesteek, Public Eye het begin organiseer en Fakkelskool het ywerig die pryse gemaak wat vir die dag geskenk is. Dit sluit alles van braaiers tot by potplanthouers in.
Die kinders van die twee huise het ook ingespring en kaartjies verkoop nadat iemand ‘n lam geskenk het. Saterdag, 28 Oktober het die groot dag aangebreek.
Al die rolbalbane was van vroegdag af besig waar verskeie spanne mekaar die stryd aangesê het. Tussen die spelers was daar enige iets van ernstige rolbalkampioene tot entoesiastiese nuwelinge.
Terwyl spanne, met interessante name soos die Engo Warriors, Distrik 4, Serial Killers, Shot Legends, Kalahari Kalante, A-Team en Rolling Romance, sake op die bane uitgespook het, is daar wors gebraai, worsbroodjies gemaak en musiek gespeel.

Die goeie nuus is dat die meeste geld en toerusting om die solar en gas te installeer reeds voor die rolbaldag ingesamel is en dat die werk plek-plek al afgehandel is.
Nou is die groot kopseer nog net die brandstofrekeninge elke maand, want die kinders is bykans almal in verskillende skole en moet elke dag afgelaai en gaan haal word. Om nie te praat van die buitemuurse aktiwiteite nie.
Kontantskenkings is welkom. Vir meer inligting stuur ‘n e-pos na 22vlaardingen@gmail.com (seunshuis) en 31hansvanrensburg@gmail.com (dogtershuis).
