Local newsNewsNews

Lang trap ter wille van die kinders

'n Jongman van Vanderbijlpark is reg vir 'n avontuur van 'n leeftyd alles ter wille van liefdadigheid. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Sjaen Lucas (21) het al in die VSA geswot en rugby gespeel. Hy skrik nie vir uitdagings nie. Hy is tans op die punt om die grootste avontuur van sy lewe aan te pak.

Die MUNGA Bergfietswedren wat om 12:00 op 29 November in Bloemfontein begin. Die MUNGA word beskryf as die moeilikste en langste een fase bergfietswedren in die wêreld.

Dis ‘n uitmergelende uitdaging teen jouself en tyd. Fietsryers het vyf dae (120 uur) om ‘n voorafbepaalde roete (meestal grondpad) vanaf Bloemfontein tot in Wellington in die Wes-Kaap te ry.

Dis aanhou en uithou deur die moordende hitte van die Karoo in die dag en die woestynkoue nagte.

Alhoewel Sjaen deel is van die Nika Capital groep, word die MUNGA nie in spanverband gery nie. ‘n Maksimum van 140 ryers word per jaar toegelaat en min haal die eindstreep.

“Dit is die eerste keer wat ek die MUNGA aandurf, maar ek sien uit daarna,” vertel Sjaen opgewonde. “Dis alles vir ‘n goeie doel. Die 20 manne wat in die Nika Capital kleure ry, is almal op ‘n missie om R55 000 per persoon in te samel.”

Nika is ‘n niewinsgewende organisasie wat hul beywer om beter onderwys vir minderbevoorregte kinders te bied. Dit is duidelik dat die einddoel om fondse in te samel om kinders te help, hom na aan die hart lê.

Dit is sy motivering vir die vyf dae van uiterstes en min slaap wat voorlê. Daar sal gelukkig so elke 60 km ‘n vorm van water wees en dan is daar die Race Villages wat sowat elke 250 km op die roete aangedui is.

Hier sal die fietsryers kos kan kry, fietse kan regmaak en slaapplek hê. Nie in hotelle of gastehuise nie, maar darem ‘n veilige plek om kop neer te lê vir ‘n paar uur.

Sjaen voel die rit is iets wat hy net moet doen. “Ek wil ‘n verskil maak in SuidAfrika, al is dit hoe klein en dit is een van die maniere hoe ek dit gaan doen.”

Alhoewel die ervare manne sê daar is nie regtig ‘n manier om jouself 100% voor te berei vir die MUNGA nie, het Sjaen hom daarop toegespits om elke week 60 – 120 km teen ‘n vinnige pas af te lê.

Hy glo dit sal hom die stamina gee om die langer afstande teen ‘n stadiger pas per dag te kan doen.

“Ons moes ook heat training doen omdat ons in die dag deur die Karoo gaan ry en almal weet hoe verskriklik warm dit in die woestyn kan raak. Dié dat ek maar gereeld 12:00 op my fiets klim en die langpad vat. Dis nie altyd lekker in die hitte nie, maar dis nodig,” beduie hy.

Indien jy Sjaen wil help om sy doelwit van R55 000 te bereik, kan jy ‘n donasie maak deur hier te klik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button