Local newsNews

Suid-Afrika en die Vaal se ‘Jodelprinses’ na kort siekbed oorlede

Charles Jacobie het Santa Vorster in 'n stadium as die grootste Suid-Afrikaanse musiekfonds in 'n lang tyd beskryf.

 

VANDERBIJLPARK. – Die sangeres Santa Vorster (70), wat reeds as jong dogtertjie die harte van baie musiekliefhebbers verower het, het verlede Saterdag na ‘n kort siekbed beswyk.
Met haar ryk stem en sangtalent het Santa al as kind die titel as “Suid-Afrika se Jodelprinses” verwerf. In ‘n stadium was sy so gewild dat sy die voorvertonings as gaskunstenaar vir die destydse sangsensasie Charles Jacobie behartig het.
Santa is op 26 Maart 1953 in Vereeniging gebore en het die grootste deel van haar volwasse lewe in die Vaaldriehoek gewoon. Sy het aan die Laerskool Handhawer-, Peacehaven en Hoërskool Vereeniging skoolgegaan voordat sy haar opleiding aan die Handelskollege in die stad voltooi het.

Met haar beskeie aard het mens haar min oor haar sangprestasies hoor praat, maar volgens Marius de Vos, musiekkenner en radio-aanbieder op IFM 102.2, was sy ‘n jodel-sangeres van formaat.
“Santa het geen formele musiekopleiding ontvang nie maar wel aan die begin van haar loopbaan leiding en raad van Charles Jacobie gekry. Sy het die klavier op gehoor leer speel, terwyl haar sang en jodel natuurlike talente was. Volgens wat sy vertel het, was jodel in haar familie se bloed. Haar oorlede vader het ook uitstekend gejodel,” sê Marius.

“Haar sangloopbaan het op die ouderdom van 9 by ‘n talentkompetisie begin, waar sy met die eerste prys, ‘n Hammerstein-radio, bekroon is. Verskeie kompetisies het gevolg en as tienjarige maak sy haar opnamedebuut met die solus-sewe “My moeder” en “In my hart sal ek jou min”. Haar eerste album, The Yodelling Princess, is in 1965 uitgereik en besorg aan haar onmiddellike sukses.
Jacobie het dadelik haar potensiaal as ‘n uitstekende vertolker van die Afrikaanse- en Countrylied raakgesien. Hy het haar in ‘n stadium as die grootste Suid-Afrikaanse musiekfonds in ‘n lang tyd beskryf.

“Santa se eerste Afrikaanse album, Die Swerwerskind, is in 1966 vrygestel. Hierop verskyn een van haar bekendste liedjies, “Daar’s geen kos in die huis”, wat sy in duet met Jacobie gesing het. Hierna het nog twee Engelse langspelers, “Yodelling along” (1967) en “My friend Mr Echo” (1968) gevolg. Sy was ook drie keer vir Sarie-toekennings genomineer,” sê Marius.

Santa is in 1973 met ‘n Rhodesiër, Hannes Kok, getroud en twee kinders, Pieter en Susan, is uit hul huwelik gebore. Hierna het Santa ‘n tyd lank van die musiektoneel verdwyn om haar volle aandag aan haar gesin en werksloopbaan te gee. Sy het in ‘n stadium by ‘n prokureursfirma en later ook in Vaalweekblad se administratiewe afdeling gewerk. Sy was ‘n ruk lank ook aan MWU Solidariteit in Vanderbijlpark verbonde.

In 1978, op aandrang van die kitaarlegende Hansie Roodt, keer Santa terug tot die musiekmark met haar tweede Afrikaanse album, “Lente in die berge”. In 1982 het sy met begeleiding van die orkes Shinnery, haar laaste langspeelplaat “Let me be me” uitgereik. In 1997 het die Gallo-platemaatskappy ‘n versameling van haar grootste treffers op die CD “Die Jodel Prinses” uitgereik. Die verkope het alle verwagtinge oortref en dit is in 1998 op aanvraag opgevolg met ‘n tweede versameling getiteld “In my hart sal ek jou min”.

Santa is verlede maand met gesondheidsprobleme in die Sebokeng-hospitaal opgeneem, waar sy verlede Saterdag in die hoësorg-afdeling oorlede is. Haar familie, oudkollegas en vriende sal haar onthou as ‘n beskeie, grasieuse dame wat almal altyd met vriendelikheid en warmte omvou het. In hul harte sal haar ryk jodelstem vir altyd weerklink.
* Haar troosdiens word Woensdag, 22 November by die NG Vaalrivier-gemeente in Vanderbijlpark gehou.

Wyle Santa Vorster.

Plateomslae bo: Santa Vorster as kinder-ster wat die land aan haar voete gehad het.

Plateomslae bo: In haar volwasse lewe, toe sy haar sangloopbaan hervat het, was sy weer ‘n onmiddellike sukses.

Wyle Santa Vorster.

Luister hier op You Tube na een van Santa se jodelliedjies uit haar kinderjare:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button