Op 99 is Ouma Meisie steeds vol lewe!
Baie mense sal Ouma Meisie onthou as die bekwame dame wat jare lank die restaurant by die Vereeniging-hospitaal bedryf het
VEREENIGING. – Vir mev. Meisie Van Tonder was die lewe nie altyd nét maanskyn en rose nie, maar op 99 beskou sy haarself as “skatryk” en bevoorreg danksy haar groot nageslag.
Ouma Meisie se familie kon op 24 Oktober haar 99ste verjaardag saam met haar vier. Sy is in 1924 in Douglas naby Hope Town in die Noord-Kaap gebore en kan nog vele staaltjies uit haar kinderdae met haar kleinkinders deel. Sy het mettertyd na Vereeniging verhuis, waar sy en haar man die eienaars van die Fuchsware elektriese winkel in die middestad was.
Sy het deur die jare haar deel aan terugslae en verdriet beleef, soos toe haar man 58 jaar gelede op ‘n jong ouderdom in ‘n motorongeluk gesterf het. Van haar vier kinders het sy vandag nog net een, ‘n dogter, oor. Haar drie seuns is almal reeds oorlede.
Met haar graad in spyseniering het sy na haar man se dood die gasvryheidsbedryf aangedurf en jare lank die kafeteria by die ou Vereeniging-hospitaal bedryf. Sy is nou ‘n inwoner van die Ebenaezer-versorgingsoord in Sonlandpark. Hoewel sy kan voel dat haar kragte saam met die ouderom afneem, is haar gesondheid nog baie goed en sy gebruik geen medikasie nie. “Dit is alles net genade.” sê sy.
“Ouma Meisie se kos was altyd van top gehalte… heerlik! En sy het altyd ‘n fyn oog en hand gehad vir die mooiste dekor. Sy kon altyd ‘n saal soos ‘n juweel laat lyk,” sê haar kleindogter, Lesinda Rademeyer.
Om stil te sit was nog nooit deel van Ouma Meisie se geaardheid nie en sy bly steeds aktief deur met haar stootkarretjie op en af in die die versorgingsoord se gange te stap. Sy bly ook steeds op hoogte van nuusgebeure deur baie na die radio te luister.
Buiten haar dogter het sy nege kleinkinders, nege agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind. Haar familie hoop dat hulle vir mekaar gespaar sal bly sodat hulle volgende jaar haar honderdste verjaardag saam met haar kan vier.

