Sussie op die herstelpad
Die Mullers bedank die plaaslike gemeenskap vir al die omgee en ondersteuning.
VANDERBIJLPARK. – Sussie, die heldhaftige klein Jack Russell wat haar ounooi tydens ‘n huisroof probeer verdedig het en daarna vir 11 dae soek was voordat sy Vrydagoggend met haar eienaars hereniging is, word tans vir bosluiskoors behandel.
Die goeie nuus is dat sy op die herstelpad is. Haar mense (die Mullers van Bernard Pricestraat) het vandag na hulle by haar gaan kuier het laat weet hoe dit met haar gaan.
“Sussie lyk baie beter en was bly om ons te sien. Dr Joanet Woodley het gesê Sussie vorder goed en sy eet al beter. Haar bakteriële telling word fyn dopgehou. Sussie sal waarskynlik more môremiddag ontslaan word,” het Elvin Muller laat weet.

Sussie het vir 11 dae in die veld oorleef en was oortrek van bosluise toe sy gevind is.
Hoewel sy so gou moontlik medikasie teen die bosluise gegee is, het hulle vermoed dat sy bosluiskoors sal kry en het haar fyn dopgehou.
Toe sy die eerste tekens toon dat sy nie haar energieke self is nie, is Sussie Sondag veearts toe geneem.
Behalwe vir die bosluise en die feit dat sy baie gewig verloor het in die tyd wat sy soek was, is Sussie verder ongedeerd.
Sussie word nou oorval met liefde en inwoners se omgee en gebede. Sy is selfs met lekkernye bederf.
Die koste wat die gesin moes aangaan om Sussie te probeer opspoor en die veeartsbehandeling het nou die hoogte ingeskiet.
Indien daar enige inwoners is wat met Sussie se mediese koste wil help kan enige bedrag hoe klein ookal, in die volgende rekening betaal word. Dit sal opreg waardeer word:
FNB Savings Account
Lianca Muller
Acc no. 62754729047
Branch Code 250655


