Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Soms moet mens dinge doen waarvan jy nie hou nie, wat jou uitput tot op die been en jou 20 jaar ouer laat voel - soos vensters was....
RUBRIEK. – Kry ek en Ma onlangs die bevlieging om gordyne en vensters te was. Plaas het ons net gaan slaap totdat die gevoel oorgegaan het.
Maar, nee… paraat is ons vroeg op. Die leer maak sy verskyning vanuit die buitekamer. Ma maak ‘n konkoksie van seep aan om die vensters te laat blink en ek betree die eerste kamer om die gordyne af te haal.
My hoop was dat ek sal bykom sonder om die leer te bestyg. Toe nou nie. Die gordynreëlings sit hoër as die normale. Ek sleep die leer nader, klim tot op die eerste trappie. Helaas, ek moet die tweede ook aandurf.
Dit gaan nie te sleg nie. Al gou lê daar oral hopies met gordynhakkies. Die wasmasjien kom in werking. Ons durf Ma se kamervensters eerste aan.
Ek is buite gewapen met die vensterwasding, die bak met warm seepwater en ‘n lap. Ma is aan die binnekant doenig op die leer.
Die taai nywerheidstof sukkel af, ek vryf droog met die lap. “Nee,” sê Ma, “dit blink nie. Gaan kry ‘n blou vadoek.”
“Bring vir my koerantpapier,” kom die joernalis in my na vore. Koerantpapier in die hand blink daardie vensters al te fraai. Totdat Ma langs my verskyn met nog ‘n blik spuitgoed en ‘n lap.
Sy spuit, sy vryf. “Nou blink dit mooi,” verklaar sy. Ek kyk na Ma. Ek kyk na die venster, die grote huis wat nog voorlê en trek ‘n streep. “Ek stop by die koerantpapier.”
Die wasmasjien se eerste bondel is klaar. “Ons hang die kantgordyne sommer nat op,” verklaar Ma en ryg hakies in. Ek bestyg weer die leer. Die ophang is veel moeiliker as die afhaal.
Eindelaas wag ons vir my kamer se gordyne om hul verskyning te maak. My kamer kry omtrent heeldag son en die gordyne bak elke dag. Elke keer se was is genade, maar die keer was alles net te veel vir die arme kantgordyn.
Ek wou my doodlag oor die wonder wasmasjien waar een gordyn ingaan en dan kry jy twee terug, maar Ma het nie gedink ek is snaaks nie.
Die badkamergordyn sit my ore aan. Die einste wonder wasmasjien staan voor die venster. Ek het met bietjie rek en strek die laaste gordynhakkies losgekry. Geen manier wat ek gaan bykom om die gordyn op te hang nie.
Ma boender my sonder seremonie agter toe. Skuif die leer in plek en woerts-warts is sy op die leer en bo-op die wasmasjien. Ek kry amper ‘n hartaanval.
“Nonsens”, sê Ma, “ek doen dit al vir jare. Mens moet net nie in die middel trap nie.” Na wat vir my gevoel het soos ‘n ewigheid is Ma weer op vaste aarde.
Teen die tyd wat die groot gordyne ook hul hang gekry het, is ek verby moeg, warm, taai en voetseer. “Ten minste doen ons dit nie elke week nie,” seg Ma vrolik, “en kyk net hoe mooi blink die vensters nou.” Sela!
