Local newsNews

Pensioenarisse vrees hulle gaan R470 miljoen verloor

Beleggers is glo mislei oor waar hul geld belê is en wat die werklike waarde van hul beleggings was.

Eerste publikasie: Vaalweekblad-papieruitgawe van 17 November 2023

VANDERBIJLPARK. – ‘n Mislukte aftreeskema waar beleggers die gevaar staan om ‘n asemrowende R470 miljoen te verloor, is besig om paniek onder Vaaldriehoekse pensioenarisse te saai.
Die Financial Sector Conduct Authority (FSCA) het die voormalige Vanderbijlparkse finansiële diensteverskaffer, N-e-FG, se lisensie in Desember 2021 opgeskort nadat die entiteit in sakeredding gegaan het. Die FSCA het dit opgevolg deur N-e-FG in Junie 2022 onder statutêre bestuur te plaas.

Beleggers sê hulle kry tans geen verdere terugvoer oor wat van hul geld geword het nie en dit wil voorkom asof dit net “verdwyn” het. N-e-FG het intussen die onderneming se deftige kantore in SW5 ontruim. Vaalweekblad se boodskappe en oproepe na die destydse direkteure bly ook onbeantwoord.
Hoewel talle van die beleggers wat die afgelope weke met Vaalweekblad gepraat het, hul verliese met dié van die destydse Krion-skema vergelyk, was die geld wat deur N-e-FG bestuur is skynbaar nie ‘n piramideskema nie.

Intussen is mnr. Krishen Sukdev, uitvoerende direkteur van Independent Actuaries and Consultants, as statutêre bestuurder deur die FSCA aangestel om die ongerymdhede te ondersoek. Hy het bevind dat die geld of bates van lede van aftreefondse wat deur N-e-FG geadministreer is, na verskeie entiteite oorgedra is sonder die toestemming of kennis van die fondse. Beleggingsmandate is glo in die proses geskend. Verder is lede glo mislei oor waar hul geld of bates belê is en wat die werklike waarde van hul beleggings was.

Volgens inligting wat die afgelope maande deur die FSCA aan beleggers oorgedra is, word Sukdev se bevindings in ‘n baie ernstige lig beskou en ‘n kriminele saak teen die N-e-FG-administrateurs en/of die bestuur daarvan, is deur Lion Insurance Company by die polisie geopen.
Sover Vaalweekblad kon vasstel, het N-e-FG die pensioene van verskeie groot ondernemings in die Vaaldriehoek sowel as in die res van Suid-Afrika bestuur. Onder hulle is ‘n bekende hospitaal wie se personeel vermoedelik almal deur die verliese geraak gaan word.

Verhale van swaarkry ná skema instort

Hartseerverhale is besig om te ontvou van ouer mense wat hul geld by N-e-FG belê het en nou hul hele pensioen en al hul spaargeld kwyt is.
Onder die slagoffers is ‘n vrou van in die 90 wat al haar geld verloor het. In plaas daarvan dat sy ‘n gerieflike oudag in ‘n hoëklas aftreeoord kan geniet soos wat sy beplan het, is sy nou finansieel van haar kinders afhanklik.

‘n Bejaarde egpaar van Vereeniging sê hoewel hulle nie ‘n baie groot pensioen gehad het nie, was die geld wat hulle maandeliks ontvang het, genoeg om selfstandig van te leef. Sedert hul pensioenuitbetalings by N-e-FG gestop het, moes hulle hul huis en motor verkoop en bly nou in ‘n klein kamertjie in hul seun se huis.

Nog ‘n belegger vertel dat die maatskappy waar hy gewerk het, 17 jaar terug besluit het om hul personeel se opgeloopte pensioengeld vanaf die instansie waar dit was, na N-e-FG se Umbrella Pension Fund te verskuif.
“Al ons maandelikse pensioengeld is van toe af na dié fonds oorgeplaas. Ons is elke drie maande van verslae voorsien wat getoon het waar ons pensioenfondse deur N-e-Fg belê was, met ‘n aanduiding van die groei. Bekende maatskappye soos Allan Gray, Coronation en BCI het in die verslae gereflekteer. Ons was almal beïndruk met die wyse hoe ons fondse deur N-e-Fg belê en bestuur was. Min het ons geweet hierdie was gefabriseerde verslae wat valslik instansies se name en groei gereflekteer het.”   Die belegger sê hy het eers in Maart 2022 bewus geword van die skynbare verduistering van hul pensioengeld. Hy het intussen kanker gekry en kan nie meer werk nie. “My hele lewe se spaargeld is daarmee heen. My hele lewe het hierdeur in duie gestort,” sê hy.

Wat baie van die beleggers woedend maak, is dat sommige direkteure van die destydse N-e-FG nou direkteure van ‘n nuwe, soortgelyke belegginsonderneming is en ongestoord met hul werk voortgaan. “Hoe kan dit toegelaat word terwyl N-e-FG steeds in sakeredding is? Weens hulle het ek alles verloor waarvoor ek 30 jaar gewerk het. My verlede, hede en toekoms is van my af weggesteel. Nuwe beleggers moet weet wat met ons geld by N-e-FG gebeur het,” sê ‘n vroulike belegger.

Dit is nie net witmense wat deur die verliese geraak word nie. Vaalweekblad dra ook kennis van ‘n bejaarde swartman wat sedert 1994 vir sy aftrede by N-e-FG gespaar het. Toe hy skielik niks meer van hulle hoor nie en sy maandelikse uitbetalings gestop het, het hy besluit om by hul kantore te gaan navraag doen oor die stand van sy pensioen. Hy het egter voor dooiemansdeur beland en eers agterna uitgevind dat hy, soos die res van N-e-FG se beleggers, vermoedelik al sy geld kwyt is.
* Voormalige beleggers by N-e-FG is welkom om Vaalweekblad per WhatsApp by 083 246 0523 te kontak om ook hul ervarings met die koerant te deel. Indien verkies, kan hulle anoniem bly.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button