Local newsNewsNews

‘Daar was baie bloed’

Dit blyk uit getuienis wat in die hof gelewer is dat die oorledene moontlik dood kon gebloei het.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (17 November 2023) verskyn. Koop ons gedrukte koerant vir die jongste nuus.

VEREENIGING. – “Daar het bloed by die wonde uitgekom. Daar was baie bloed.”

Só het Juanita Walkenshaw, ‘n afgetrede verpleegster wat op 22 November 2021 noodbehandeling op Benjamin Lotz (52) van Leeuhof probeer toepas het, verlede week in die rondgaande hooggeregshof in die landdroshof in Benoni getuig.

Lindi Falch (44) en haar drie seuns, Raymond (21), Shane (24) en Simon Anton “Babatjie” Metz (18) word in dié hof vir die moord van Lotz verhoor.

Raymond Metz, Lindi Falch, Shane Metz en “Babatjie” Metz in die beskuldigdebank. Foto: Verskaf

Walkenshaw, ‘n inwoner van Leeuhof, sê die oorledene se broer, Hendrik Lotz, het haar kom haal op 22 November 2021 nadat sy broer aangeval is en aan haar gesê dat Benjamin gesteek is.

Sy het toe na die huis van die oorledene gegaan waar sy Benjamin op die vloer aangetref het.

Walkenshaw het getuig dat Lotz se oë “glasagtig” voorgekom het en dat sy met ‘n lap druk op die wonde toegepas het om die bloeding te probeer stop.

Sy sê sy het sowat 10-15 minute probeer om noodbehandeling op Lotz toe te pas, waarna sy die ambulans gebel het.

Juanita Walkenshaw. Foto: Christiaan Cloete

Hulle het glo vir ‘n uur en ‘n half vir die ambulans gewag.

Dr. Sipho Bolo, ‘n forensiese patoloog wat die nadoodse ondersoek op Lotz gedoen het, het in die hof getuig oor verskeie beserings wat Benjamin tydens die aanval opgedoen het.

Dit sluit ‘n wond op die agterkant van sy bors, ‘n wond bo sy linkerboud, ‘n wond op sy linker dy, ‘n wond aan die voorkant van sy been onder die knie, krapmerke op sy bobeen, ‘n wond naby sy heup, ‘n wond in sy regter dy, krapmerke op sy regter dy, krapmerke op die agterkant van sy linkerskouer, ‘n lyn vormige krapmerk vanaf die agterkant van sy nek tot by sy bors, krapmerke op sy elmboog en krapmerke op sy ken in.

Shane Metz (beskuldigde #4) glimlag vir die kamera in die hof. Agter hom is sy ma, Lindi Falch, en broer, Raymond Metz. Foto: Christiaan Cloete

Bolo het getuig dat die oorledene hom waarskynlik doodgebloei het, eerder as wat hy ‘n aanval gekry het weens ‘n breinbesering.

Laasgenoemde scenario kan moontlik later deur die verdediging voorgehou as ‘n alternatiewe verduideliking vir Lotz se dood.

Sipho Bolo, ‘n forensiese patoloog in die hof, waar hy getuig het oor die nadoodse ondersoek op Benjamin Lotz. Foto: Christiaan Cloete

Regter Carla van Veenendal het Bolo geroskam oor sy gebrekkige nadoodse verslag, wat vrae oor die werklike oorsaak van Lotz se dood laat ontstaan.

Bolo het byvoorbeeld in sy verslag aangedui dat geen slagare beskadig is nie terwyl dit uit sy eie getuienis en dié van ander blyk dat Benjamin wel dood kon gebloei het weens slagare wat raak gesteek is.

Benjamin Lotz (52), die oorledene. Foto: Verskaf

Jy sien dokter, as regsgeleerdes maak ons staat op die wetenskap om vir ons duidelike antwoorde te gee. Ons nadoodse verslae is besig om agteruit te gaan en ons kan nie meer daarop staatmaak nie,” het Van Veenendal aan Bolo gesê.

Bolo het ook getuig dat die wonde nie diep genoeg was dat enige van Benjamin se organe raakgesteek is nie, maar dat hy hom waarskynlik dood gebloei het. Die saak duur die week voort.

*Die staat het verlede Dinsdag (14 November 2023) sy saak afgesluit. Die verdediging sou verlede week getuies geroep het om te getuig, maar hofverrigtinge is tot stilstand geruk toe Raymond Metz (beskuldigde #1) ‘n epileptiese aanval in die hof gekry het en die hofsaak uitgestel moes word.

Die saak is uitgestel tot Maandag 8 Januarie 2024.

Raymond Metz en sy broer, Shane Metz, in die beskuldigdebank. Foto: Christiaan Cloete
Ma Lindi Falch in die beskuldigdebank saam met haar seuns. Foto: Christiaan Cloete

Back to top button