Sussie is gesond en by die huis
Die Mullers van Vanderbijlpark kan dalk nou die nagmerrie-ondervinding afsluit.
VANDERBIJLPARK. – Sussie, die heldhaftige klein Jack Russell wat haar ounooi tydens ‘n huisroof probeer verdedig, daarna soek was vir elf dae, gevind is maar toe bosluiskoors onder lede gehad het, is uiteindelik gesond en terug by die huis.
Vir die eerste keer sedert Sussie op 6 Novemver weggeraak het, sal die Mullers nou meer kan ontspan met die wete dat sy veilig en gesond is.
“Sussie het die regte sorg by Dr Joanet Woodley van Sasolburg Veearts gekry. Ons kon haar gister (21 Novemember) weer huis toe bring. Sy is haar ou self en het op haar plekkie by die voordeur gaan lê waar sy soos altyd die doen en late in straat kan dophou,” het Elvin gesê.

Sussie het vir 11 dae in die veld oorleef en was oortrek van bosluise toe sy gevind is.
Hoewel sy so gou moontlik medikasie teen die bosluise gegee is, het hulle vermoed dat sy bosluiskoors sal kry en het haar fyn dopgehou.
Toe sy die eerste tekens toon dat sy nie haar energieke self is nie, is Sussie Sondag veearts toe geneem.
Behalwe vir die bosluise en die feit dat sy baie gewig verloor het in die tyd wat sy soek was, is Sussie verder ongedeerd.
Sussie word nou oorval met liefde en inwoners se omgee en gebede. Sy is selfs met lekkernye bederf terwyl sy in die hospitaal was.
Die koste wat die gesin moes aangaan om Sussie te probeer opspoor en die veeartsbehandeling het nou die hoogte ingeskiet.
Indien daar enige inwoners is wat met Sussie se mediese koste wil help kan enige bedrag hoe klein ookal, in die volgende rekening betaal word. Dit sal opreg waardeer word:
FNB Savings Account
Lianca Muller
Acc no. 62754729047
Branch Code 250655

