Morné is nommer 1 in SA
Volgende jaar gaan Morné van Rooyen 'n uithourit van formaat op sy veldmotorfiets in Namibië meemaak. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Die BMW MOTORRAD GS Trophy is elke jaar ‘n hoogtepunt op die veldry motorfietskalender. Nie dat enige een sommer aan die vyf-dag uithouwedren kan deelneem nie.
Motorfietsryers moet eers kwalifiseer vir hierdie internasionale wedren voordat hulle hul onderskeie lande kan verteenwoordig.

Dis presies wat Morné van Rooyen gedoen het toe hy vir die GS Trophy 2024 gekwalifiseer het. Die laaste SuidAfrikaanse kwalifiserende rondte het onlangs in Aberdeen plaasgevind en daarna is die Suid-Afrikaanse span aangewys.
Morné, wat tans die eerste posisie in Suid-Afrika beklee, gaan saam met JP Boer en Ruhan de Villiers die SA mansspan vorm wat in Namibië gaan deelneem in 2024.
Die roete van die uitdagende wedren word eers ‘n dag voor die tyd bekend gemaak, maar die organiseerders het laat weet dat daar beslis heelwat sand- en bergpaadjies ingesluit sal wees.

Morné sê vir die GS Trophy word almal van dieselfde motorfietse voorsien om seker te maak dis ‘n gelyke speelveld.
Hy ry al motorfiets vir die afgelope agt jaar en is opgewonde om aan sy eerste GS Trophy te gaan deelneem.
