Local newsNews

Wonderlike nuus: Danika is in remissie!

Die goeie nuus het gister gekom, presies 9 maande nadat sy met kanker gediagnoseer is

Presies 9 maande nadat klein Danika van Tonder en haar gesin haar kankerpad begin stap het, het haar pa, André, gisteraand met ‘n dankbare hart aangekondig dat sy nou amptelik in remissie is.

Vaalweekblad sal volgende week volledig oor dié goeie nuus berig. Lees intussen dié boodskap wat André gisteraand op Facebook geplaas het:

 

23 November 2023
Hi almal
Danika is in remissie, die gevoelens moet nog insink, maar die blydskap, trane, emosies is daar. Dankie Here Dankie Jesus Christus dat U U hartjie prinses sover gebring het.
Dit is vandag presies 9 maande: 23 Feb – 23 Nov 2023 (ek sien dit as n hergeboorte vir Danika )
‘n nuwe lewe wat wink ‘n nuwe begin ‘n kans vir nuwe dinge hier kom groot dinge.
Ek wil elkeen van julle bedank vanaand uit my hart en siel dankie vir die boodskappe, omgee, liefde, gebede, ondersteuning, geskenke, kos, you name it, julle was daar – dankie dat julle vir ons dogtertjie tot dusver ingetree het en vir haar lief geword het.
Ons is in remissie, lang pad wat nou wag vir die herstel maar ons kan begin – vir nou gaan ons net bietjie rus tot 8 Jan 2024 (ons volgende checkup) en dan die pad vorentoe bespreek maar n feit is: Danika sal baie checkups hê tot die dag van haar laaste dag, so ek vra steeds asb vir julle gebede vir haar waar remissie kan verander na genees (5jaar proses)
Regtig dankie dankie dankie
Dink die emosies gaan binnekort insink.
Dankie dankie dankie dankie 

Lees dié berig oor Danika wat in September 2023 in Vaalweekblad gepubliseer is:

200 dae na kankerdiagnose wag groot uitdagings steeds op Danika

MIDVAAL. – Dit is hierdie week 200 dae sedert klein Danika van Tonder in Februarie vanjaar met Stadium 4-kanker gediagnoseer is. Dit is tot dusver ‘n uitmergelende reis wat haar ouers, André en Christine van Tonder, geen kind of ouerpaar toewens nie.
Danika het in Januarie met groot opgewondenheid haar Graad 1-jaar by die Laerskool Risiville begin, voordat sy in Februarie siek geword het.
Sedert sy op 23 Februarie met medulloblastoma gediagnoseer is en op 8 Maart haar eerste operasie ondergaan het om die breingewas, so groot soos ‘n appel, te verwyder, het dié dapper dogtertjie en haar ouers reeds deur diep waters gegaan.
Haar eerste operasie was ‘n teaterprosedure van sewe ure. Vir haar ouers was dit ‘n senutergende beproewing want hulle het geweet daar was ‘n moontlikheid dat sy nie lewend uit die teater sou kom nie omdat die gewas wat verwyder moes word, so na aan haar breinstam was. Haar ouers glo tot vandag toe dat die duisende mense wat daardie dag vir Danika en die dokters gebid het, sukses verseker het. Die gewas is 100% verwyder. Danika was egter nie ongeskonde nie: Sy kon na die operasie nie meer praat of loop nie en was weer soos ‘n pasgebore baba wat niks vir haarself kon doen nie.
Kort daarna was sy terug in die teater sodat ‘n buisie, bekend as ‘n “shunt”, in haar brein ingeplaas kon word om serebellum-vloeistof te laat dreineer, want die vog het steeds kwaai drukking op haar brein veroorsaak.
Intussen het Danika vanaf 12 Junie tot 24 Julie reeds 30 keer bestraling oor haar brein en rugstring ontvang. “Dit was bitter erg. Sy het daarna bloedoortappings en bloedplaatjies ontvang omdat haar eie bloedtellings so kommerwekkend laag was,” sê André.
‘n Nuwe probleem is dat die “shunt” tans te veel vog van haar brein af laat dreineer, wat kneusing op albei haar breinlobbe veroorsaak. Dit kan tot permanente breinskade of selfs terminale skade lei en sy sal binnekort weer ‘n operasie moet ondergaan om die “shunt” te vervang. Dit kan tans nie gedoen word nie omdat die dokters nie haar chemoterapie wil onderbreek nie. Sy het reeds vier sessies chemo deurloop, wat elk oor ‘n tydperk van 3 dae en 6 ure toegedien word. Sodra sy sterker is, gaan haar vyfde sessie begin. In totaal moet sy ses sulke sessies ontvang.
Volgens André het Danika in die afgelope maande weer leer loop en praat, maar dit gaan nog moeilik. Sy sukkel steeds met haar balans en spraak. Haar regterkant is nog baie lam en haar linkeroog gee baie probleme. Sy het ook haar pragtige lang hare verloor, maar dit behoort vinnig terug te groei wanneer die intensiewe behandeling verby is.
“Hierdie is ‘n stryd wat ons vir geen mens toewens nie. Die laaste 14 weke het ek net twee weke gewerk, so ‘n inkomste was daar nie, maar ons is deur dit en darem nog hier. Ons weet nog nie wat voorlê nie. Ons weet net die pad is nog bitter lank. Danika kry baie swaar en is baie moeg die laaste tyd. Haar twee boeties van 10 en 4 jaar vat dinge ook swaar want ons hele wêreld is omgegooi,” sê André, wat ‘n loodgietersbesigheid het en die hoofbroodwinner van sy gesin is.
“Ons is soms baie moedeloos want dit voel asof daar net heeltyd iets is wat skeefloop,” sê hy.
Die gesin het nie ‘n private mediese fonds nie en is afhanklik van staatsbehandeling, wat by drie verskillende hospitale aan die Rand verskaf word. Buiten dat brandstof duur is, laat dit ook min tyd toe vir André om aandag aan sy sakeonderneming te gee.
* Enigiemand wat Danika en haar gesin geldelik wil bystaan, kan ‘n inbetaling doen aan A. van Tonder, Standard Bank Vereeniging, rekeningnommer: 282004726 (tjek).
“Die belangrikste wat ons vra, is dat almal asseblief moet aanhou bid vir ons dogtertjie … vir volle genesing en ‘n vol lewe,” sê André.

Danika van Tonder saam met haar ouers, André en Christine, nadat haar behandeling vroeër vanjaar begin het.
Hoewel sy nog met lamheid aan haar regterkant sukkel en haar linkerogie probleme gee, speel sy graag met haar poppies op dae wat sy effens beter voel.
Danika van Tonder. 
Danika as opgewonde Graad eentjie voordat sy met medulloblastoma, ‘n gewas in die brein, gediagnoseer is.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button