Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - So 'n yskoue koffie lafenis in die middel van produksiedag was net die regte medisyne. Lees meer...

RUBRIEK. – Donderdae is produksiedag. Saktyd. Vaalweekblad se redaksiespan sit bankvas agter rekenaars by die kantoor. Die produksiespan is gebuig oor hul rekenaars.

Daar word hard gewerk om die koerant betyds klaar te kry om drukkers toe te stuur. Dis nie noodwendig die maklikste dag in die week nie.

Soms loop die gemoedere maar hoog. ‘n Mens kry mos dae wat die bladsye net nie wil uitwerk nie. Die foto’s nie wil inpas nie. Die stories skeeftrek.

Maar, op moeilike dae kry ons dit klaar met baie koffie, eet en so hier en daar ‘n gepraat in tale (soos onse dominee van ouds altyd gesê het as iemand aan’t swets raak).

Op goeie dae kry ons dit klaar met baie koffie, eet en groot lag. Is lekker om almal onder een dak te hê. Dit gebeur net eenmaal per week.

Vir die res is ons almal op ons eie storie-paadjies en werk net ek van die Vaalweekblad-vier van die kantoor af.

Allegeval, verlede week was toe ‘n goeie dag. Die blaaie loop soos stroop. Daar is nie te veel struikelblokke nie en die koffie skop goed in.

Tot op ‘n punt. Met nog ‘n paar bladsye oor wat gedoen moet word, tref die groot dors ons. Onse kantoorkoffie is nie meer goed genoeg nie. Ons kry warm. Ons is moeg.

Gelukkig het Liewe Vriend êrens vandaan ‘n koopbewys van ‘n plaaslike restaurant verdien en dit vir my aangestuur. Ons stop alles en bestudeer die spyskaart. Dis te warm vir eet. Ons beloer die yskoffies.

Synde dat ek die koopbewys op my foon het, word ek afgevaardig om die nodige aankope te gaan doen. Dit aksie verloop sonder hakplekke en minder as ‘n halfuur later deel ek yskoue koffiemengsels uit.

Die ys rinkink vrolik in die plastiese glase. Tipies joernalis moet daar eers foto geneem word. Elsje, Ettienne en myselwers staan nader met ons yskoffies in die hand.

Maak nie saak hoe ek mik met my selfoon nie, my arm is net te kort om ons al drie met ons drankies in die prentjie te pas. (Ja, net drie, kollega Christiaan moes ‘n dringende hofsaak bywoon. Om die storie te volg, nie om self in die hof te verskyn nie.)

Na verskeie probeerslae en baie lag, tref dit my skielik uit die bloute. Ons is in die kantoor. Agter in die hoek is die hele adminspan aan’t werke met al die syfers en dinge en net deur die glasdeure is die hele produksiespan tot ons beskikking.

Nhlanhla is die naaste. Sy skud net kop oor ons doen en late, maar ons kry darem ons foto voordat al die ys gesmelt het.

Dankbaar vir die verposing in die anders bedrywige dag. Dit was voorwaar lekker. So ‘n bederf kry ons nie elke dag nie. Soos Elsje tereg opgemerk het: “Dit smaak na nog.” Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button