Local newsNewsNews

Talentvol, musikaal en sportief

Dié twee broers woeker behoorlik met hul talente op elke gebied. Maak nader kennis met Vincent en Michael van Schalkwyk.

VAALPARK. – Die twee Van Schalkwyk broers lyk na mekaar. Dieselfde glimlag en blink oë. Albei is geseënd met hope talent van akademie tot by musiek en sport.

Die twee is trotse leerders van Hoërskool Vaalpark. Vincent (gr. 11) is meer die introvert. Rustiger. Musiek is sy passie en hy geniet sy sport.

Michael (gr. 8) is ‘n bondel energie. Om stil te sit is nie hoog op sy spyskaart van bedrywighede nie. Sport is sy passie en hy geniet sy musiek.

Vincent is die kitaar maestro en Michael laat die viool praat. Die twee het behoorlik gewoeker met hul talente die jaar.

Vincent het uitstekend gevaar by die Vaaldriehoek Kunstefees met twee A++ vir solo, drie A++ vir ensemble en ‘n A++ vir ‘n duet saam met Michael.

By die Pretoria Kitaar Eiesteddfod het hy verskeie A++ toekennings gekry en met die Hannetjie Boshoff wisseltrofee vir die beste o.18 kitaarspeler weggestap.

In Oktober is hy uitgenooi om aan die UNISA Musiekbeurskompetisie deel te neem. Die meeste ander deelnemers was volwassenes, maar Vincent het sy man gestaan en die Du Toit van Tonder musiekbeurs, asook die Johanna van der Spuy prys vir die beste deelnemer in die Romantiese afdeling met sy kitaarspel verower.

Tans knaag sy senuwees bietjie, want hy is een van net ses musikante (hy is die enigste skolier) wat gekeur is om mee te ding vir die Human Naude Muskiebeurs. Die finale rondte van die kompetisie vind 5 Desember in Bloemfontein plaas.

Dan het Vincent in November ‘n opname saam met die Gauteng Filharmoniese-orkes agter die rug. Die opnames is by die SABC se ateljee in Aucklandpark gedoen en sal op Kersoggend as deel van RSG se Kersdagprogram uitgesaai word.

Sy sport het nie agterweë gebly nie en hy het weer ‘n string medaljes en toekennings verower vir gevegskuns (judo en Kurash) wat onder andere die Sedibeng Beste Senior Kata toekenning en die Junior Kurash Speler van die jaar insluit.

Michael het sy eerste hoërskooljaar gate uit geniet en het behoorlik op die sportveld geskitter. Hy was die Fezile Dabe Cobras se o.14 rugbyspan kaptein tydens die Rhino week, het vir sy skool se o.15 rugbyspan uitgedraf en vir die skool se eerste krieketspan gekolf.

Verder het hy die Pre-cadet Kurash Speler van die jaar trofee ontvang, asook Sedibeng Provinsiale kleure in Kurash nadat hy goud by die Kurash SA’s verower het.

Voeg daarby verskeie brons medaljes, onder andere een wat hy verdien het nadat hy in ‘n hoër gevegsklas deelgeneem het, en dis te verstane dat mens Michael maar versigtig moet benader.

Op musiekgebied, het Michael die jaar sy graad 6 Trinity viooleksamen met 86% geslaag.en hy was die kategoriewenner vir die beste instrumentalis vir gr.8 en 9 by Con Spirito. Hy het twee A++ by die Vaaldriehoek Kunstefees verdien.

Hul musiekonderwyseres, Corli Jannasch sê die boeties is uiteenlopend, maar as hul die dag saam optree het hul die gehoor in vervoering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button