‘n Lang lys prestasies agter Abi se naam!
Dié lewenslustige meisie is 'n bondeltjie energie met 'n omgeehart vir haar medemens.
VANDERBIJLPARK. – Die Laerskool Kollegepark se 2023-hoofmeisie, Abigail Pienaar, is duidelik met die spreekwoordelike 10 talente geseën – en sy steek dit beslis nie onder ‘n maatemmer weg nie!
Met haar lang lys toekennings op akademiese, sport- en kultuurgebied lyk dit dalk of alles maklik vir haar kom. Dié na aan haar weet egter dat haar suksesse die resultaat van absolute toewyding en baie harde werk is.
Almal by Kollegepark ken haar op haar “kort naam”: Abi – ‘n energieke blinkoog-meisiekind sonder enige aanstellerigheid of pretensie. Sy is die jongste van drie sussies wat almal in hul laerskooljare hoofmeisies van Kollegepark was. Abi is by die skool se pasafgelope toekenningsgeleentheid as dux-leerling aangewys en het met ses boekpryse vir haar akademiese gemiddeld van 97% weggestap.

Abi Pienaar het by Laerskool Kollegepark se prysuitdelig met verskeie toppryse weggestap.
Op sportgebied het sy net so uitmuntend gevaar. Sy het vir haar skool se eerstespanne hokkie en netbal gespeel en is ook in die Sedibeng-netbalspan en D8-hokkiespan ingesluit. Buiten verskeie ander toernooie waaraan sy vanjaar deelgeneem het, was sy ook deel van die 0/14 ECHS-span wat van 1 tot 9 Oktober in Nederland gaan toer het. Verder was sy deel van Kollegepark se eerstespan wat die Spar School Girls Hockey Challenge gewen het. Boonop is sy as een van die spelers van die toernooi aangewys. In die MG Indoor-hokkietoernooi het sy met die titel as Speler van die Toernooi in die o/18-afdeling weggestap. En dit op slegs 13-jarige ouderdom!
Op kultuurgebied het Abi ook dwarsdeur haar laerskoolloopbaan haar stempel deeglik afgedruk. Sy was vanaf Graad 1 tot Graad 7 die skool se Kultuurdogter van die Jaar, behalwe in die 2020 Covid-jaar toe daar nie een aangewys was nie. Buiten dat sy Kollegepark by die Super12 Redenaars en die Bybelvasvrae in Pretoria verteenwoordig het, het sy onlangs ook onder Gauteng se vaandel aan die Nasionale Radikale Redenaarskompetisie deelgeneem, waar sy as nasionale wenner in die prosa-afdeling aangewys is. Verder het sy aan haar skool se dans- en sanggroep deelgeneem en is ook tot Mej. Kollegepark 2023 verkies.
In haar vrye tyd geniet sy perdry en gholf. Dié lewenslustige meisie is ‘n bondeltjie energie met ‘n omgeehart vir haar medemens. Sy het ook ’n uitsonderlike liefde vir diere. Uit ‘n toespraak wat sy onlangs by haar skool gelewer het, is dit duidelik dat sy naby aan die Here leef en weet waar haar krag vandaan kom. Om ‘n hoërskool te kies was nie maklik nie, maar Abi se keuse het uiteindelik op die Hoërskool Sasolburg geval, waar verskeie van haar maats ook in 2024 hul skoolloopbane gaan voortsit.
