Tannie Charlotte (67) glo ontvoer om losprys te eis
‘n Bekentenis wat deur een van die beskuldigdes gemaak is werp lig op die gebeure wat tot die 67-jarige Charlotte Fenn se moord gelei het.
*Die storie het eerste in die Vaalweekblad van Vrydag 24 November verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jonste nuus.
VEREENIGING. – Die plan was om die 67-jarige tannie te ontvoer, haar weg te steek en dan ‘n losprys vir haar vrylating te eis.
Daar was ook planne om haar te vermoor en later versekeringsgeld te eis.
Die bedrag geld wat ontvang sou word, sou dan eweredig tussen die drie beskuldigdes verdeel word.
Dit is volgens ‘n bekentenis wat Lindsay Kirton (31) aan die polisie gemaak het en nou as bewysstuk ingedien is.

Lindsay, haar saamleefmaat, Quinton Edgar (52) en die oorledene se seun, Grant du Toit (46), word tans in die rondgaande hooggeregshof in Palm Ridge verhoor vir die moord op die 67-jarige Charlotte Christine Fenn, ‘n plaaslike entrepreneur wat tuinsdienste aan mense van die Vaaldriehoek gelewer het.
Lindsay en Quinton, wat al 7 jaar saamwoon, loseer sedert Desember 2022 by die oorledene se kleinhoewe in Sonlandpark.
Grant het ook daar by sy ma gewoon.
Volgens Lindsay kry sy en Quinton finansieel swaar en wou Grant Amerika toe gaan.
Grant se ma wou egter nie geld gee nie.
Volgens Lindsay het Quinton haar in Januarie die eerste keer van hom en Grant se planne met Tannie Charlotte meegedeel.

Op 1 Februarie het hy haar in kennis gestel dat hulle dit die volgende dag sou doen.
“Ek het gevra wat? My man het geantwoord, die ontvoer,” lui ‘n uittreksel uit die bekentenis.
Op die oggend van 2 Februarie is Lindsay en Edgar met hul Opel Kadett na ‘n plek langs die R59 (naby die Witkop Blokhuis) waar Quinton vir Tannie Charlotte gebel en aan haar vertel het dat hul voertuig onklaar geraak het.
Die oorledene is met haar Kia-bakkie daarheen om hulle te gaan help. Grant, wat volgens die beplanning ook daar moes wees, was laat en die ander twee beskuldigdes moes gevolglik “vir tyd speel om die tannie daar te hou.”
Die oorledene en Lindsay eers saam na Checkers by die Arcon Park Shopping Centre gery het om pasteie te gaan koop.
Na ongeveer ‘n halfuur het hulle teruggekeer na waar die Opel Kadett langs die snelweg gestaan het en die pasteie saam met Quinton geëet.
Grant het uiteindelik gebel en laat weet dat hy op pad is.

Quinton het toe saam met die oorledene in haar Kia bakkie vertrek en Lindsay moes daar wag om vir Grant te beduie waarheen Quinton vir Tannie Charlotte geneem het.
Lindsay is toe terug na die parkeerterrein van die Arcon Park Shopping Centre en het daar gewag.
Quinton het later met Tannie Charlotte se Kia bakkie daar aangekom, waarna hy Lindsay gevra het om 5 liter brandstof te koop.
“Ek het dit gedoen en my man het my vertel dat dinge nie goed afgeloop het nie en dat Grant soos sy gat gedink het,” vertel sy.
Al drie die beskuldigdes moes later na die Checkers terugkeer, maar Grant het nooit opgedaag nie.
Daarna het Lindsay en Quinton in die rigting van Sasolburg/Parys vertrek; Quinton in Tannie Charlotte se Kia bakkie en in Lindsay in hul Opel Kadette.
Quinton het op ‘n grondpad in die Sasolburg-omgewing afgedraai, die bakkie vol petrol gegooi en dit aan die brand gesteek.

Hierna het Lindsay vir Quinton opgelaai en hulle het huistoe gery.
Op pad daarheen het hulle sitplekke geruil.
By die kleinhoewe aangekom het Lindsay gemerk dat Grant se Fiat bakkie reeds by die huis was.
“Grant het uit die bos geloop gekom en was vol modder. Ons het nie gepraat nie. My man wou niks sê nie en het aanhoudend gesê dat hoe minder ek weet hoe beter,” vertel sy.
Lindsay beweer dat sy eers op 5 Februarie deur die polisie oor Tannie Charlotte se dood meegedeel is.

“Ek het nie geweet dat die tannie vermoor is nie en het ook nie gedink dat my man sou moor nie.”
Later in die bekentenis bieg sy dat Quinton haar vertel het dat hy Tannie Charlotte vasgemaak het, en dat Grant haar in die kop geskiet het met haar eie vuurwapen.

*Lindsay het die bekentenis gemaak nadat sy aanvanklik dieselfde alibi as Quinton verskaf het, naamlik dat hulle op die dag van Tannie Charlotte se verdwyning by die Laser Fast Truck Stop was waar Quinton aan ‘n voertuig gewerk het.
Eers nadat Jestus Fouché, die polisiekaptein wat haar oor die moord ondervra het, haar met ‘n skermskoot gekonfronteer het wat wys dat sy en die oorledene saam by die Checkers van die Arcon Park Shopping Centre was gekonfronteer het, het sy ‘n ander storie vertel.
Dit het daartoe gelei dat Lindsay later ‘n formele bekentenis voor kapt. Wessie Wessels, ‘n vredesbeampte verbonde aan die polisie se speurtak in Heidelberg, afgelê het.

Die staat wou Lindsay se bekentenis as bewysstuk indien, maar Lindsay se regsverteenwoordiger, Nthabiseng Mokoena, het eers aangevoer dat die bekentenis nie toelaatbaar is as getuienis nie aangesien haar kliënt “nie die outeur van die bekentenis is nie” en sy “nooit van haar grondwetlike regte ingelig is” alvorens die bekentenis afgelê is nie.
Nthabiseng het aangevoer dat die polisie sekere beloftes aan Kirton gemaak het en dat hulle haar gedreig het dat sy nie weer haar kinders sal sien indien sy nie die bekentenis aflê nie.
Nthabiseng het ook aangevoer dat Lindsay 500ml vaniljegeursel gedrink het en dat sy onder die invloed van alkohol was toe sy die bekentenis afgelê het.
‘n Binneverhoor oor die toelaatbaarheid van Kirton se bekentenis is gehou en die regter het beslis dat dit wel toelaatbaar is as getuienis.
Dit is nou as bewysstuk inegdien.
Die saak duur voort en is uitgestel tot 15 Januarie 2024.
