Local newsNews

Rowers se koeël steek in vrou se borskas vas

Een van Irene se ribbes is deur die koeël gebreek en haar een long het platgeval.

 

VANDERBIJLPARK. – Drie personeellede en ‘n vroulike kliënt van ‘n groothandel-kruidenierswinkel is Vrydag, 10 November, helder oordag tydens ‘n rooftog in CW5 geskiet.
“‘n Mens kan nie vir iemand beskryf wat in daardie angswekkende oomblikke deur jou gedagtes gaan nie,” sê mnr. Roelof Wepenaar* (57), wie se vrou, Irene* (53), in die borskas gewond is.

Die egpaar van ‘n kleinhoewe buite Vanderbijlpark, is die oggend omstreeks 11:00 na Sugar for Africa om melk te gaan koop. Roelof het in die parkeerarea voor die winkelsentrum stilgehou en Irene het met R200 in haar hand uitgeklim en die winkel ingegaan.
“Sy was skaars twee minute weg toe ek vyf skote hoor klap. Drie goedgeklede swartmans, van wie twee steeds vuurwapens in hul hande gehad het, het uit die winkel gestorm en in ‘n Polo oorkant my ingeklim. Ek kon sien hulle het sakke vol geld by hulle gehad. Die jongste van die drie het skielik teruggehardloop en nog ‘n personeellid by die winkel se deur gaan skiet.

“Toe die rowers ry, het ek instinktief die winkel ingehardloop en na my vrou begin soek. Beseerde personeellede het op die vloer gelê en ek kon sien hoe bloed uit die voet en kuit van een van die mans stroom. Ek het gevra waar my vrou is maar in die chaos kon niemand my sê nie. Ek is op en af met die winkelrakke maar daar was geen teken van haar nie. Ek was bevrees die rowers het haar ontvoer sonder dat ek dit gesien het en wou weer uithardloop toe ek ‘n stoordeur effens oop sien staan. Ek is daar in en het haar uiteindelik in die donker onder ‘n swaar houtrak wat op haar geval het, sien lê. Net haar kop en arm het uitgesteek. Sy het in ‘n plas bloed gelê en dit het gelyk of sy nie asemhaal nie. Bloed het uit ‘n wond in haar bors gestroom. Ek het die bloeding met vadoeke wat ek in die winkel gekry het, probeer stop en dadelik my dogters gebel om ‘n ambulans te ontbied,” sê Roelof.

Irene is op die toneel deur paramedici van ER24 gestabiliseer en na Mediclinic Emfuleni geneem, waar vasgestel is dat die koeël in haar borskas vasgesteek het. Een van haar ribbes is deur die koeël gebreek en haar een long het platgeval.
Die egpaar het sedert Roelof sewe jaar gelede by sy werk afgelê is, nie ‘n mediese fonds nie en kon nie die vereiste R400 000 vir verdere behandeling in Emfuleni Mediclinic se waakeenheid bekostig nie. Irene is toe dieselfde aand na die Sebokeng-staatshospitaal oorgeplaas.

Volgens Roelof het sy aanvanklik baie goeie behandeling daar gekry maar nadat sy longontsteking opgedoen het, het haar gesin haar na Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark laat oorplaas. Sy is daar verpleeg tot die Sondagmiddag, waarna Roelof haar per motor en met ‘n geleende bottel suurstof sowel as haar Cormed-lêer na die Baragwanath-hospitaal vervoer het. Sy word steeds daar behandel. Sy het nog baie pyn maar maak redelike goeie vordering.

Die egpaar se seun wat op ‘n plaas in Amerika werk, het sy opgegaarde spaargeld gebruik om sy ma se aanvanklike mediese uitgawes (sowat R50 000) by die privaathospitale te betaal. Die boer vir wie hy werk, het hom intussen afgegee sodat hy na Suid-Afrika kon terugvlieg om sy ouers by te staan.
Sover Vaalweekblad kon vasstel, is Sugar for Africa se gewonde personeellede almal by die Sebokeng-hospitaal behandel en aldrie het die voorval oorleef. Hulle is almal oorspronklik van Suid-Asië.

* Roelof en Irene Wepenaar is skuilname wat op versoek van die egpaar gebruik word omdat hulle nie wil hê die rowers moet hul ware identiteit of adres uitvind nie. Die rowers was teen Vaalweekblad se saktyd nog op vrye voet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button