Wêreldkroon vir onse Chloé-Jade Christian
Dis 'n eerste vir die Vaaldriehoek en 'n eerste vir Suid-Afrika... Miss Teen Earth is ons eie Chloé-Jade van Vereeniging. Lees meer...
VEREENIGING. – Vir die eerste keer het ‘n Suid-Afrikaner die Miss Teen Earth titel verower. Boonop is Chloé-Jade Christian (16) ‘n Valie.
Die talentvolle 16-jarige is 14 November by ‘n luisterryke geleentheid in Equador gekroon nadat sy ‘n paar weke tevore met die Miss Teen Earth South Africa titel weggestap het.

“Dis amazing. I’m over the moon,” het Chloé-Jade in ‘n telefoniese onderhoud vertel. Sy is tans terug in Suid-Afrika en besig met eksamen. “Ek het ‘n paar vraestelle met toestemming gemis, maar haal dit nou vinnig in.”
Sy het ‘n besige jaar agter die rug en het onder andere aan die International Model and Talent Association (IMTA) convention in New York deelgeneem. Hier het sy in 12 afdelings (wat sang, drama en modelwerk ingesluit het) deelgeneem en 10 toekennings ontvang.
In Oktober was sy die gaskunstenaar by die 13de Annual International ARTS Talent Showcase (IATS) en het reeds ‘n uitnodiging ontvang om die EMS Paris Showcase in Mei 2024 by te woon.
Ten spyte van al die toekennings bly Chloé-Jade nederig, gelowig en altyd vriendelik. Sy werk hard, maar geniet elke oomblik en sien uit daarna om in die volgende jaar veral ‘n verskil by skole te kan maak.

Omgewingsbewaring lê haar na aan die hart, maar soos sy tereg sê, “dit gaan nie net oor plante en diere nie, mense is ook deel van die aarde.”
Sy wil graag kinders en tieners inspireer en motiveer om ook elke geleentheid aan te gryp en hul drome na te jaag. Dis moeilik om te glo dat die jong koningin met die mooi glimlag op laerskool geboelie is.
Dit was juis die rede hoekom sy met modelwerk begin het, om haar selfvertroue te bou. Vandag straal sy van lewenslus en kan sy die wêreld vierkantig in die oë kyk en ‘n verskil maak.
Alhoewel haar modelwerk haar baie besig gehou het hierdie jaar, bly sy steeds passievol oor haar musiek. Naas die viool wat sy al sedert sesjarige ouderdom speel, het sy ook ‘n ongelooflike sangstem.
Haar gesin en geloof is haar ankers. Sy werk hard, maar sy geniet dit en nee, sy beplan nie ‘n rustige Desember na die eksamen nie, want stilsit bestaan nie vir dié jong dame nie.
