‘Onvoorspelbaarheid van beurtkrag vernietig ekonomie’
"Eskom se onvoorsiene onderbrekings saai vernietiging in die land se ekonomie en ook in mense se lewens".

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Minerale hulpbronne en energie het dit beklemtoon dat hoewel die meeste huishoudings en ondernemings hulself al by twee ure op ʼn slag se kragonderbrekings aangepas het, vier ure eenvoudig te lank is.
Batterye en ander vorms van kragopberging hou eenvoudig nie so lank nie.
Die mees verdoemende oordeel oor elektrisiteit in Suid-Afrika is die onvoorspelbaarheid van beurtkrag.
Vaal-inwoners moes juis gister hoor dat sowat 900 van ArcelorMittal se Vereeniging-tak die gevaar staan om om hul werk te verloor.
Een van die redes wat aangevoer word vir die moontlike afleggings is die impak wat beurtkrag op dié staalreus het.
“Hoewel dit minder aandag trek, is daar al hoe meer munisipaliteite wat dit moeilik vind om opgaardamme vol te hou.
“In Kimberley (Sol Plaatje-munisipaliteit) en Hartswater (Phokwane-munisipaliteit) is daar woonbuurte wat reeds weke sonder lopende water moet regkom. Die stelsels is eenvoudig nie ontwerp om tot ses ure per dag stil te staan nie.
“Die hittegolf wat suider Afrika tans teister, dra waarskynlik tot die huidige onvoorspelbaarheid van kragvoorsiening by. Dit is nie net opwekkingseenhede wat minder doeltreffend is onder hoë temperature nie, dit is ook die verbruik van koelkamers, yskaste en wateraanlegte wat die hoogte inskiet.
“Die vraag ontstaan of Eskom elke keer werklik so verbaas kan wees as hy beurtkrag moet uitbrei. Dieselreserwes, verhoogde aanvraag en die toestand van oorwerkte opwekkingseenhede is immers nie ʼn geheim nie.
“Of Eskom leuens vertel of regtig nie weet nie, die gevolge bly dieselfde. Daarom is die langtermynoplossing om Eskom as bystand te beskou; elkeen wat dit kan bekostig, moet onafhanklik van Eskom raak en bly wees as daar krag in die netwerk is,” meen dr. Boshoff.
Volledige berig oor moontlike afleggings by ArcelorMittal hieronder.

