Local newsNewsNews

Vaal Toy Run – beste van die bestes

Die Centurions MCC se Vaal Toy Run was weer 'n groot sukses hierdie jaar. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Die motorfietsryers het van so ver as Johannesburg, die Oos- en Wesrand gekom. Vroeg opgestaan en in die pad geval.

Vroegoggend het dit alreeds gewemel van mense by die Riverside Boulevard Centre (aka Die Gat) in Vanderbijlpark. Oral het bikers rondgestaan, terwyl hul motorfietse geblink het in die oggendson.

Branden en Larah Tutubala was daar om die dag te ondersteun.

Elke motorfiets was die trotse draers van sagte speelgoed van alle grotes en kleure. Terwyl ʼn plaaslike radiostasie die musiek verskaf het, het Kersvader solank vir die kinders lekkergoedpakkies uitgedeel.

Uiteindelik het almal hul bikes bestyg en met Kersvader agterop ʼn jeep het die prosessie in beweging gekom.

ʼn Ellelange stoet motorfietse het vrolik hul weg van die Gat na die Centurions MCC se klubgronde in Shakespearestraat gevind.

Die Crome Soldiers MCC se lede het as die padwagte diens gedoen en seker gemaak almal kom in een stuk by die bestemming aan.

By die klubgronde was daar stalletjies, musiek, kos en ʼn nattigheid vir die keel. Al die speelgoed, nie-bederfbare kos en skryfbehoeftes is in die saal gepak.

Dit was algou duidelik dat die 28ste Vaal Toy Run ʼn reuse sukses was. Die speelgoed het die plek volgestaan.

Elke bike was versier met ‘n sagte speelding of twee.

Rian Beeslaar van die Centurions MCC het laat weet: “Ons is baie bly. Dit was groot. Dit was awesome en ons is baie bly die weer het saamgespeel. Dit was lekker om al die klubs van die Rand by ons te hê.”

Hy het ook al hul vennote en borge bedank wat die dag weer eens moontlik gemaak het.

Dit sluit die Dros in Vanderbijlpark in, asook Biker4U magazine, Biker4U Entertainment, AfriForum, Solidariteit se Helpende Hand, Herkies Pub & Grill, Rotary Klub van Riverside, Rotary Anns van Riverside, PG Glass, Knockout Pub & Grill, Chrome Soldiers, 102.2 FM en MooiVaal Media.

Bikers was dit ook eens dat die dag ʼn treffer was. So het Anne-Marie de la Rey op Facebook gesê:

“Ek is so trots om ‘n Biker te wees”, terwyl Jacké Labuschagne dit as ʼn “hoendervleis ervaring” ervaring beskryf het. “Elke Biker, elke persoon, julle harte is goud en groot,” het sy bygevoeg.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button