Weermagveterane vier Dag van Herinnering
Die Vasbyt Tropie Fees is gehou om fondse vir weermagveterane in nood in te samel.
*Die storie het eerste in die gedrukte uitgawe van Ster North (21 November – 27 November 2023) verskyn. Kry ons gedrukte koerante vir die jongste nuus.
MEYERTON. – Op die 11de uur van die 11de dag van die 11de maand word daar jaarliks ‘n oomblik van stilte gehou vir die derduisende soldate wat hul lewens in die Eerste Wêreldoorlog verloor het.
Dit is omdat die Geallieerde Moonthede op 11 November 1918 om 11:00 ‘n wapenstilstandooreenkoms met Duitsland by Compiégne, Frankryk onderteken, het wat ‘n einde aan die Eerste Wêreldoorlog sou bring.
Vredesdag, of “Papawerdag” soos dit ook bekend staan, word sedertdien jaarliks op 11 November gevier.
Die laasgenoemde naam is afkomstig van die velde van Vlaandere, waar duisende soldate in veldslagte tydens die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het.
Hierdie velde is gewoonlik in November oortrek met papawerblomme.
Die blomme het oor die jare ook ‘n simbool geword vir die Eerste Wêreldoorlog en soldate wat hul lewens tydens die oorlog verloor het, maar ook vir vrede vir die toekoms.
Lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se Kliprivierkommando het Saterdag, 11 November op Vredesdag, die Vasbyt Troepie Fees by die Sure Focus-skietbaan in Midvaal aangebied.
Die doel van die dag was om fondse in te samel vir weermagveterane in nood.
Kunstenaars soos Johnnie Takbok, Ricky Faber en Ysterperd Tert het tydens die geleentheid opgetree en besoekers het heerlik saamgekuier.
Om presies 11:00 is ‘n kranslegging gehou vir soldate wat hul lewens in oorloë verloor het.
Steven Findley, Bailee Findley en Angi Findley van Braai Kidz het gesorg dat die boereworsrolmasjien loop tydens die Vasbyt Troepie Fees.





