Akademiese glansgeleentheid vir Afrikaans
Vanjaar se lesing was die dertiende in die reeks en dit was ook die vierde huldigingslesing sedert prof. T.T. Cloete se dood.
Die tweejaarlikse TT Cloete-gedenklesing het op Donderdag, 16 November, in Potchefstroom plaasgevind. Dit is deur die vakgroep Afrikaans en Nederlands aan die NWU aangebied. Vanjaar se lesing was die dertiende in die reeks en dit was ook die vierde huldigingslesing sedert prof. Cloete se dood in 2015.
Die doel van die lesings is eerstens om erkenning te gee aan die werk van prof. Cloete, wat vir baie jare aan die NWU (voorheen die PU vir CHO) verbonde was. Tweedens is die doel om ‘n platform vir openbare gesprek in en om die letterkunde te skep.
Vanjaar se lesing, met die titel “Grammatika en kreatiwiteit,” is behartig deur prof. Timothy Colleman, professor aan die Universiteit van Gent in België en leerstoelbekleër van die Nederlandse Wisselleerstoel in Suid-Afrika. Hierdie leerstoel is ‘n gesamentlike inisiatief van die Taalunie, Diplomatieke Verteenwoordiging van Vlaandere in Suider-Afrika en die Ambassade van die Koninkryk van die Nederlande in Suid-Afrika. Daarmee saam word dit gereël deur die Taalunie, Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN) en Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN). Hierdie Neerlandistiekorganisasies is verteenwoordig deur dr. Geraldine Reymenants en mnr. Nicolas Vandeviver (Diplomatieke Verteenwoordiging van Vlaandere in Suider-Afrika); mnr. Berto Bosscha en me. Jessica Glendinning (Ambassade van die Koninkryk van die Nederlande in Suid-Afrika) en prof. Nerina Bosman (SAVN).
Prof. Colleman se lesing het die kreatiewe wyse waarop Cloete van interessante en ongewone grammatikale konstruksies in sy poësie gebruik gemaak het, uiteengesit en dit ook in verband gebring met soortgelyke konstruksies wat in byvoorbeeld Nederlandse digters, soos Martinus Nijhoff, se werk opgemerk word. Verder het hy ook aangedui hoe grammatika kreatief in gedrukte media, sowel as op sosiale media platforms, gebruik word.
Na afloop van die lesing het dosente van die vakgroep saam met prof. Colleman, dr. Geraldine Reymenants en Nicolas Vandeviver, die Vanderbijlparkkampus van die NWU besoek. Tydens die kampusbesoek het die vakgroep meer uitgebrei oor die geleenthede wat hulle hul voor- en nagraadse studente bied deur byvoorbeeld die Jongerensprojek en die Zomerscholen, waardeur die vakgroep hulle Nederlandse bande versterk en studente die geleentheid bied om selfs op voorgraadse vlak deur Nederland te kan toer. Die vakgroep het ook verduidelik hoe hulle op ʼn hibriede wyse saamwerk, deur byvoorbeeld aanlyn en kontak klasaanbiedings. Hierdeur bied hulle hul studente in Afrikaans en Nederlands oor die twee kampusse heen dieselfde leerervaring, en sodoende verseker hulle ook dat die studente klas ontvang van spesialiste in Afrikaanse letterkunde en taalkunde.





