Local newsNews

Dubbele hartseer gaan Kersliggies nie uitdoof nie

Vanaand, 1 Desember, word die Kersliggies by Uniestraat 30, Sasolburg aangeskakel. Kom kyk gerus!

 

SASOLBURG. – Inwoners van die Vaaldriehoek stroom al dekades lank elke Kerstyd na Uniestraat 30, Sasolburg, om na die skouspel van Kersliggies te kom kyk.
Die pragtige liggievertoning en Kersuitstallings was al van die vroeë 2000’s af ‘n gereelde instelling in Koos en Zenda Strydom se erf. Hulle het dit elke jaar met die hulp van hul dogter, Odette, opgestel.
Odette was nog ‘n skooldogter van 14 jaar toe sy die jaarlikse uitstallings saam met haar ouers begin dryf het. Vir die volgende 15 jaar het sy elke jaar nuwe planne beraam om die liggieprojek groter en mooier te maak. Sy het ook elke jaar ‘n optog in samewerking met die brandweer en plaaslike GPF gereël om saam deur die strate te ry terwyl Kersvader geskenkies of lekkergoed aan minderbevoorregtes uitdeel.

‘n Groot tragedie het die hegte Strydom-gesin getref toe Odette op 31 Oktober 2020 op die ouderdom van net 29 in haar slaap aan hartversaking gesterf het. Die toekoms van die liggieprojek was in die weegskaal want haar ouers en haar jong seun, Shane, se hartseer was so groot dat die Kersliggies die laaste ding in hul gedagtes was. Die Strydoms het uiteindelik tog deurgedruk en die liggies daarna weer jaarliks aangeskakel as ‘n huldeblyk aan Odette.

So het Uniestraat 30 se Kersliggies die afgelope twee dekades geskitter. Inlasfoto: Wyle Odette Strydom, ‘n paar jaar gelede, toe sy die projek elke jaar saam met haar ouers begin aanpak het.

Vanjaar het ‘n nuwe tragedie die gesin getref: Zenda is ook onverwags oorlede. Sy het op 19 Mei as gevolg van ‘n bloedklont in Koos se arms gesterf.
Ondanks die reuse-terugslag en verdriet gaan Uniestraat 30 se liggies vanjaar wel weer skyn. Koos is klaar met die laaste afronding en vanaand, op 1 Desember, word die liggies aangeskakel. Hy doen vanjaar se projek met die hulp van sy kleinseun Shane en ‘n paar vriende.

Koos en Zenda voor haar onverwagse dood in Mei vanjaar

Soos altyd gaan die liggieprag met alle belangstellendes gedeel word. Koos nooi almal om saans te kom stilhou en kyk, of selfs deur die erf te stap om die liggies en uitstallings van naderby te bewonder.
Twee Kersliedere by Kerslig-geleenthede word ook by Uniestraat 30 aangebied op 16 en 23 Desember om 17:30 vir 18:00. Almal is welkom om te kom luister en saam te sing. Bring net jou eie stoel, kombers, kerslig, jou familie en kom kuier lekker saam. Toegang is gratis.

Die Strydoms het ‘n kragopwekker aangeskaf sodat die liggies kan brand, selfs al is daar dalk kragonderbrekings of beurtkrag. Hoewel hulle nie vir donasies vra nie, is daar ‘n donasieboks as mense ‘n bydrae wil maak vir die elektrisiteitrekening of vir petrol vir die kragopwekker – indien dit aangeskakel moet word. Enige geskenke of lekkergoed vir minderbevoorregte kinders sal ook baie waardeer word. Navrae kan gerig word aan Koos (083 229 8132) of Landi (083 262 1770).

Daar is selfs ‘n posbus waar die kleingoed briefies vir Kersvader kan los
Kersvader se bokke en slee is ook daar.
‘n Vorige jaar se Kersliedere by Kerslig-geleentheid by Uniestraat 30.
Een van die pragtige Kerstonele.
Nog een van die Kersfees-uitstallings.

Kersvader maak ook ‘n verskyning in Uniestraat, Sasolburg!

 

Back to top button