Jong rocksterre se nuwe enkelsnit en video laat die voete jeuk
‘n Bloedjong rockgroep van Meyerton se musiekvideo vir hul nuwe enkelsnit is Vrydagoggend (1 Desember 2023) uitgereik en laat mense reeds onwillekeurig skoffel en heupe swaai.
MEYERTON. – Die 4 Eva Young Band van Meyerton, met lede wat 11, 12, en 13 jaar oud is, het Vrydag (1 Desember 2023) die musiekvideo van hul enkelsnit “Tiekiedraai” uitgereik en die video is reeds al verskeie kere op YouTube-kanaal gekyk.
Die musiekgroep, bestaande uit Caitie Rock (13), Johan van Rooyen (13), Reuben Herbst (12) en Zandri Bezuidenhout (11), het die liedjie saam met Richan Brüssouw van die sangduo Reën geskryf, waarna dit in sy ateljee in Vredefort opgeneem is.
Richan en die kinders werk glo al sedert 2023 aan die liedjie en daar is blykbaar nog liedjies in die pyplyn.
Caitie en Reuben is leerders van Laerskool Midvaal in Meyerton, terwyl Johan in Hoërskool Dr. Malan is en Zandri in Laerskool Risiville is.
Caitie is die hoofsanger van die groep, terwyl Johan sing en die elektriese kitaar tokkel.
Reuben speel die baskitaar en Zandri die tromme.


