‘n Uitsonderlike vroeë Kersgeskenk
Afrikaanse musiek legendes se onvergeetlike Kerskonsert in Sasolburg.
SASOLBURG. – Die Etienne Rousseau Teater was volgepak Sondag, 26 November vir die vertoning, Stille Nag deur twee van Suid-Afrika se musiek legendes, Coenie de Villiers en André Swartz.

Die gehoor se toejuiging toe die twee manne op die verhoog stap, was soos ‘n verwelkomingskreet. Asof die Vaaldriehoek wou sê: “Welkom tuis.”
Dit is duidelik dat die twee kunstenaars goeie vriende is en hul het die gehoor lekker laat lag met hul kwinkslae. Natuurlik was dit tone-omkrul-lekker om te hoor hoe hul die lof van die ERT en die groot vleuelklavier besing.
Die program het uit ‘n verskeidenheid van bekende treffers, stories en uitsonderlike verwerkings van Kersliedere bestaan.
Toe die laaste note opklink het die gehoor soos een man opgestaan en die twee begaafde sangers’n staande ovasie gegee.
Na afloop van die vertoning was almal dit eens, dit was puik. Mag die duo gou weer in Sasolburg kom kuier.
