Speelgoedmaker kan weer sien danksy operasie
Sy kan danksy die operasie weer haar sagte speelgoed maak.
VEREENIGING. – “Ek kan darem al heelwat beter sien, hoewel ek nog met my sonbril moet rondbeweeg soos ‘n gemaskerde dinges.”
Só vertel Elsie van der Walt, ‘n bekende speelgoedmaker van Vereeniging, skertsend nadat sy in November twee katarakoperasies ondergaan het danksy geld wat vir haar ingesamel is.
Elsie het in Julie vanjaar haar na Vaalweekblad gewend omdat sy gesukkel het om haar werk te doen aangesien sy nie behoorlik kon sien nie en die maak van poppe so ‘n fyn werk is.

Elsie het aanvanklik R50 000 gekort – R25 000 per oog -, maar ‘n dokter van Northcliff het gehelp om die operasies teen ‘n verminderde bedrag van R35 000 uit te voer.
Met behulp van vriende, familie en ou skoolvriende kon Elsie R15 000 vir die operasie van die een oog insamel. Godon Yuul, haar suster se seun, het die operasie op die ander oog ten volle betaal.
“Ek wil net my bure, die Uys-huisgesin, bedank vir die heen en weer ryery toe ek op 7 November en 8 November moes ingaan vir die operasies.
Ek is ook dankbaar aan skoolmaats van die Hoërskool Ficksburg wat gehelp het om die meeste van die geld in te samel.

Elsie maak al sagte speelgoed sedert 1992 en verkoop dit gewoonlik op die sypaadjie buite haar huis in Ringweg.
Sy sal ongelukkig nie die speelgoed buite haar huis kan verkoop nie aangesien die sonlig baie skerp is en sy nog besig is om van die operasies te herstel.
Elsie verkoop die speelgoed vanaf haar huis by 13 Ringweg, Drie Riviere. Mense wat belang stel om na haar sagte speelgoed tekyk kan haar by 082 519 8696 skakel.
