Dink en Doen sluit jaar af met ‘n virtuele wêreldreis!
Lede van die damesklub het die gebruike, tradisies en kos van verskeie lande uitgebeeld
VANDERBIJLPARK. – Lede van die Dink en Doen Damesklub het hul jaar se bedrywighede op 14 November met ‘n verbeeldingsreis om die wêreld afgesluit! Die tema van die dag was “Around the World” en lede kon lekker kuier rondom tafels wat verskeie lande se tradisies, kleredrag, vlae en kos uitgebeeld het.
Magda McGeer, die voorsitter, het die Verenigde State van Amerika se gebruike onder die loep geneem, Maggie Swanepoel het China gekies, Roosmarie Lubbe het op Australië gefokus en Christa Malherbe op Italië. Alta Naudé het Suid-Afrika uitgebeeld – steeds die lieflikste, lekkerste land ondanks al die uitdagings!
Magda nooi alle vroue om volgende jaar by Dink en Doen aan te sluit. Die klublede kom een maal per maand bymekaar vir ‘n lekker kuier by die NG Driehoek-gemeente in Macowenstraat, Vanderbijlpark. Dit word die tweede Dinsdag van elke maand om 09:30 vir 10:00 aangebied. Kundige sprekers gesels dan oor interessante onderwerpe en vroue kry ook ‘n geleentheid om by kreatiewe handwerk- en kunsprojekte betrokke te raak.
Die aansluitingsfooi is R220 per persoon vir die jaar, maar vroue wat die geleenthede eers net as gaste wil bywoon, betaal R50 per geleentheid. Die eerste byeenkoms van die nuwe jaar word vir 9 Januarie 2024 beplan. Alle belangstellendes wat wil aansluit, is welkom om die voorsitter, Magda, by 073 407 9042 te kontak.