28ste Kersliedere by Kerslig ‘n groot sukses
VEREENIGING. - Die jaarlikse Radiokansel “Kersliedere by Kerslig” is verlede Sondag gehou en die woord en liefde het behoorlik geskyn.
Sowat 1 500 mense het deur die loop van die aand vanaf 16:00 hul sitplekke by die Riviera on Vaal Hotel op die oewer van die Vaalrivier ingeneem.
Die aand is afgeskop met Lydia Lamprecht (organiseerder en bekende skakelbeampte van Radiokansel) wat verantwoordelik was vir die beplanning en sukses van die aand, wat almal verwelkom het.
Dit was die 28ste jaar wat sy die program in die Vaaldriehoek koördineer.
Die aand is daarna amptlik geopen deur plaaslike leraar, Pastoor Hannes van der Walt.
Ds Karel Verhoef het vervolgens die saak van Radiokansel gestel en die belangrikheid van ‘n nasionale en internasionale Christelike radiostasie beklemtoon.

Oom Karoolus en Lente het daarna die kinders vermaak met hulle humor, sang en boodskap.
Daarna was dit Dr Johan Pienaar aan die woord met ‘n inspirerende kersboodskap met Lukas 1:37 as kerngedagte: “Niks is vir God onmoontlik nie”.
Nadat ‘n Feesoffer opgeneem is, het Danie Botha die skare trakteer op kersliedere, asook geestelike liede wat mense aangemoedig het om in die feestyd Jesus as Verlosser en Redder te eer.
Hy het ook ‘n getuienis uit sy eie ervaring gedeel waartydens hy op uitnodiging ‘n besoek aan Saudi Arabia gedoen het. Hy is gevra om kersliedere te sing vir ‘n gemeente met sowat 140 lidmate.
Hy is daarna met ‘n klein klankstel na ‘n plek in die woestyn geneem waar hy verwag het om vir sowat 100 mense op te tree.
Groot was sy verbasing toe daar met skemerte ‘n skare van sowat 50 00 mense, hoofsaaklik moslems, opgedaag het.
Nadat die Oorwinningslied saamgesing is, het Pastoor Charles van Onselen, van Radiokansel, die aand afgesluit met gebed.
Radiokansel bedank die borge en almal wat saamgewerk het om die aand ‘n groot sukses te maak.
Radiokansel spreek ook graag hul dank uit teenoor al hul luisteraars, ondersteuners, en voorbidders, wie almal direk bydra tot die voortbestaan van die radiostasie, na 42 jaar van God se genade.


