Local newsNewsNews

CANSA se groot stap vir hoop, lig en liefde

CANSA se Relay For Life Vaal was weer hierdie jaar een vir die boeke. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Die son het begin dink aan slaaptyd, maar by die Hoërskool Transvalia se sportgronde was alles in rep en roer.

Die tente was opgeslaan en oral het groepe mense in hul spandrag en kostuums gereed gestaan. Die geleentheid? CANSA se Relay For Life Vaal om fondse in te samel vir kankernavorsing.

Inlas: Eagan en sy brakkie, Bakkies het ook dapper saamgeloop. Foto’s: Gerda Bruinette

Hierdie was soveel meer as ‘n fondsinsamelingsprojek. Vir die organiseerders was dit ‘n geleentheid om in te lig, op te voed en bowenal te vertel daar is hoop.

Hoop vir elkeen wat met kanker worstel. Hul boodskap was duidelik, niemand hoef hierdie siekte alleen aan te vat nie. Nie die pasiënt nie en ook nie hul familie en vriende nie.

Die jongste lid van die Julies Glass span, Mianè Willemse, is in haar eie pampoenkoets om die baan getrek.

Dit was ‘n bonte skare wat reggestaan het om die groot staptog Saterdagaand, 25 November om 18:00 te begin. Vir die volgende 12 ure moes daar ten minste een van elke span aan die stap wees.

Die eerste rondte het almal tegelyk weggeval. Die gemoedere was lig. Die glimlagte breed en die musiek vrolik. Vir die groot okkasie het verskeie besighede en organisasies spanne ingestuur.

Johan Meyering en Tony Teichman van die Rotariër Klub van Riverside het flink die stapaflos aangepak.

So was daar die bikers van CMA Vaal Triangle, die lede van die Rotariër Klub van Riverside, die Cupcakes, die Windpompe en die span van Julies Glass.

Dit was hartverblydend om te sien hoeveel mense loop met Surviver-hemde en serpe om die baan. Dié krygers wat reeds kanker oorwin het, het as aansporing vir die res gedien.

Dan was daar die hartseerkant ook. Oral is daar wit papiersakkies gepak. In elke sakkie ‘n kersie. Buite ‘n foto van iemand wat moedig teen die siekte baklei het, maar nou nie meer daar is nie.

Leon Gerber en DM Lubbe van CMA Vaal MCC

Om 21:00 is die groot ligte afgesit en is die mense wat dit nie gemaak het nie onthou…

Die dapper stappers het elkeen ‘n rede hoekom hulle aan die aflos kom deelneem het. Van ‘n ouma wat oorleef het, maar ‘n pa wat nie meer daar is nie, tot by vriende wat verloor is.

Maar ook dankbaarheid vir geliefdes wat nou in remissie is. Ten spyte van die emosiebelaaide oomblikke, was die atmosfeer die aand gemoedelik en vrolik.

Daar was samehorigheid onder die spanne en ‘n vrede wat moeilik in woorde vasgevang kan word.

Volgende jaar hoop die organiseerders om nog meer spanne en deelnemers te hê. Vir meer inligting besoek gerus https://relayforlife.org.za/ of die Facebookblad https://www.facebook.com/ CANSAGautengNorthWestLimpopo

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button