Na goeie nuus kom nuwe terugslag vir Danika
Operasie word vanoggend uitgevoer om 'shunt' te vervang
MIDVAAL. – Skaars ‘n week na Vaalweekblad se berig dat klein Danika van Tonder (7) se breinkanker in remissie is, is daar opnuut slegte nuus: Sy ondergaan vanoggend (6 Desember 2023) ‘n dringende prosedure in die Nelson Mandela Kinderhospitaal om die “shunt” in haar brein te vervang.
Danika het sedert Februarie vanjaar intensiewe behandeling vir Stadium 4-breinkanker (medulloblastoma) ontvang. Die uitmergelende operasies, chemoterapie en bestraling het vrugte afgewerp en op 23 November vanjaar het sy en haar ouers die goeie nuus gekry dat sy in remissie is.
Sy het egter steeds probleme ondervind met die “shunt”, ‘n buisie wat serebellum-vloeistof van haar brein af moet laat dreineer. Dit laat dreineer te veel vog, wat tot breinskade kan lei. Haar toestand het gistermiddag so vererger dat sy in die Nelson Mandela Kinderhospitaal opgeneem is.
Volgens haar pa, André, word sy vanoggend omstreeks 08:00 geopereeer om die “shunt” met ‘n nuwe, programmeerbare een te vervang. Sodoende sal die hoeveelheid vog wat gedreineer word, beter beheer kan word.
“Ons vra almal om asseblief aan te hou bid vir ons dogtertjie,” het haar baie bekomerde pa gisteraand gesê. Vaalweekblad sal gereeld terugvoer oor Danika se toestand gee.



